Nuusbrief << Keer terug na Herman se nuusbriewe

Jip, hier’s hy - my eerste nuusbrief!

Die doel van die nuusbrief is om meer inligting te verskaf rondom my musikale bedrywighede en ook ‘n paar eiers in die mandjie te gooi oor ander opkomende kunstenaars se doen en late. Dit voel vir my soms of ons op die drumpel van ‘n hele nuwe beweging in afrikaanse musiek staan wat baie opwindend is en wat ek graag wil bevorder. Ongelukkig sal die nuusbrief heel waarskynlik ‘n eensydige fokus hê as gevolg van my subjektiewe smaak en vriendskappe wat ek met heelwat van die musikante aangeknoop het, maar ek hoop nie dit sal julle te veel afsit nie.

Ek is ‘n bietjie skrikkerig om myself te verbind tot ‘n maandelikse ding as gevolg van my deurmekaar skedule, so verwag die nuusbrief maar wanneer julle dit kry. Onthou, die sukses van hierdie nuusbrief sal afhang van terugvoer van julle af!

Aardklop - Wat verby is, is verby

Die van julle wat daar was, sal weet - ‘n fees der feeste! Min geslaap, baie gekuier. Ek hoop die wat my show Die Beiteltjie gesien het, het dit geniet. Soos altyd soek ek terugvoer en voorstelle hoe ons dit kan verbeter.

Daar was natuurlik ‘n paw-paw in die fan. Volgens die kaartjiekantoor was my shows uitverkoop, terwyl dit nie so was nie, so die bywoning was minder as wat ek verwag het, maar nietemin het ons ons gate uit geniet! Die band het gekook!

Ander shows wat ek gesien het was die van Anna Davel, Elle Chapman en Steyn Fourie. Ek het ook vir die eerste keer die kabaret Neklis van Alexa Strachan gesien waarin drie van my songs gebruik word. Almal van hulle se shows was baie goed en is goed ontvang deur die Aardkloppers.

Nuus

Ek begin einde Oktober om op te neem aan my volgende CD. Dit sal voorlopig net 4 songs wees. Kan nie wag nie! Die CD sal heel waarskynlik eers einde volgende jaar uitkom, maar vir die wat belangstel sal ek MP3 files op my webwerf sit (nee, hy is nog in wording).

Coenie de Villiers se nuwe CD is uit en slaan blykbaar ‘n nuwe rigting in vir hom. Ek het dit nog nie gehoor nie, maar hoor net goeie dinge van die wat al het.

Cutt Glass begin ook eersdaags hulle nuwe CD opneem na hulle ‘n kontrak gekry het by BMG (as ek reg onthou). Vir die eerste keer gaan hulle bietjie wegbeweeg van die a capella styl en verwerkings word gedoen deur Didi Kriel.

Charl van Heyningen is ook onlangs deur BMG ge”sign” en gaan eersdaags begin met sy CD. Hy gaan moontlik twee van my songs ook opneem.

Anna Davel is nie iemand waarmee jy sukkel nie. ‘n Boef het probeer om haar goed te steel deur die motorvenster maar Anna het ‘n vuishou ingekry wat hy nie gou sal vergeet nie. Sy het al haar goed teruggekry. Anna vir hoofmeisie!!

Ek kan nie vir julle sê wat julle ondersteuning vir ons opkomende ouens beteken nie. DANKIE!!

Tot ‘n volgende keer

Herman van den Berg

sel: 083 232 1377
epos: info@hermanvdb.co.za
hermanvandenberg.eu brelinafrikaans.eu
 
Kopiereg © 2000 - 2017 Herman van den Berg.
Alle regte voorbehou.
webwerf ontwikkel deur Dumel
grafiese ontwerp - Chenette Swart