Nuusbrief << Keer terug na Herman se nuusbriewe
 

Die reaksie op die nuusbrief idee was oorweldigend! Baie dankie aan almal wat ons opkomende Afrikaanse kunstenaars ondersteun. Ek hoop die nuusbrief voldoen aan julle behoeftes! Onthou om voorstelle te maak en dit te “forward” na almal wat sou belangstel om die nuusbrief te ontvang. Hulle kan vir my ‘n e-pos te stuur by herman02@mweb.co.za om op die verspreidingslys te kom. As iemand nie meer die nuusbrief wil ontvang nie, stuur vir my ‘n boodskap in dier voege.

Daar het navrae gekom oor huiskonserte. Ek (en ek’s seker ander kunstenaars soos Anna Davel) doen graag enige konsert wat ek kan op hierdie stadium om meer blootstelling te kry en huiskonserte werk vir my veral goed.

Soos julle kan sien het ek ‘n nuwe logo te danke aan my broer se grafiese ontwerpsvermoë. Dankie Heinrich, dit werk vir my!

CD resensie

Ek gaan probeer om met elke nuusbrief ‘n resensie in te sluit van nuwe Afrikaanse musiek. Om objektiwiteit te behou, gaan ek ander kunstenaars vra om van die resensies te skryf.

Hooglied

Soos ek in my vorige nuusbrief gesê het, het Coenie de Villiers ‘n nuwe rigting ingeslaan met “Hooglied”, wat ek intussen in die hande gekry het. Coenie aanhangers behoort aanklank te vind by die CD maar ek is bevrees dit het nie ‘n groot indruk op my gemaak nie. Hy het wel vars nuwe musikante gebruik wat die liedjies opkikker en effens weggebreek van klavier gedomineerde verwerkings, maar sy skryfstyl is vir my nog maar bra dieselfde. Onthou asseblief dat hierdie my eie beskeie mening en smaak is en dat dit julle nie moet afsit om dit te koop nie!

Nuus

Opnames

Ek het die opneem van my volgende CD vir eers uitgestel. Marius Brouwer van Pop Planet, waar ek gewoonlik opneem, het voorgestel dat ons die CD by twee studios opneem. Sodoende kan ons die growwe werk by 'n goedkoper studio doen, dit dan oordra na sy studio toe en die skaafwerk daar doen. Dit behoort 'n baie interessante eksperiment te wees in moderne tegnologie. Ongelukkig is die meeste van my musikante nou oorsee, so ek sal eers so aan die einde van November kan begin opneem. Ek sal laat weet as die eerste songs beskikbaar word op die webwerf (wat nog in wording is).

Hey, Miss Brown

Laurika Rauch het so pas haar volgende CD klaar opgeneem. Die temaliedjie “Hey, Miss Brown” is geskryf deur ‘n meisie wat vanjaar derde gekom het met die “Vuurdoop” kompetisie, waarvan Laurika ‘n beoordelaar was. Sy het ook laas week verjaar met ‘n volle half-eeu op die kerfstok.

Alexa se Passie

Alexa Strachan se nuutste liefde is een met kurwes wat enige man op sy knee sal bring of vinnig op spoed sal laat kom. Nee, sy’s nie gay nie!


Jeeehaaah!

The Showcase - ‘n briljante nuwe teater

Lulu van der Walt, die bekende musiekverwerker en Mark de Klerk van The Sound Corporation is besig om ‘n wonderlike nuwe venue op die been te bring - The Showcase. Dit beloof om een van die beste venues in die land te word. Met klank en beligting wat meer as ‘n miljoen Rand beloop wil hulle ‘n huis vir die Suid Afrikaanse musiekindustrie skep wat hoë kwaliteit produksies aanbied. Die venue het sitplek virk 200 mense en sluit ‘n restaurant in wat glad nie te versmaai is nie. Danie Schwartz die gewese bestuurder van Tempo restaurant in die Civic Theatre, is die bestuurder. Die ligging van The Showcase is ook ideal geleë (naby die MTN Sundome) om mense vanoor die hele Gauteng te trek. Die venue open sy deure op die 14de November.

Tot ‘n volgende keer

Herman van den Berg

 

 

sel: 083 232 1377
epos: info@hermanvdb.co.za
hermanvandenberg.eu brelinafrikaans.eu
 
Kopiereg © 2000 - 2017 Herman van den Berg.
Alle regte voorbehou.
webwerf ontwikkel deur Dumel
grafiese ontwerp - Chenette Swart