Nuusbrief << Keer terug na Herman se nuusbriewe
 

Die ding van ‘n nuwe jaar is altyd die aftuimel na die werklikheid na die euforie van engele, kersliedjies (sit dit af, sit dit af!), 54321 en sjampanje. Dit voel soos ‘n vliegtuig wat a reuse airpocket tref. Die eerste paar dae dink jy nog met oomblikke terug aan sonskyn op jou voorarms, maar die werklikheid laat nie met hom mors nie. Vanjaar was myne nog erger want tussen kersfees en nuwejaar was ek die spook agter my rekenaar met bloedbelope oë en benoude boude, terwyl die pêlle my (onwetend) tart deur te bel van die see af.

Nou ja, ek hoop julle het dit geniet en welkom in 2001! Die jaar van groot dinge vir almal, hoop ek (en die jaar van Space Odyssey, as ek reg onthou).

Twee dinge van belang het gebeur die afgelope tyd. Die eerste is ‘n song wat met my gebeur het in die middel van die nag vir al die pêlle in exile. Die saadjie is geplant deur Elmo in Frankryk. Ek beplan om ‘n opname daarvan te maak en dit te mail vir die in vêrre lande. As enige van julle belangstel om die ook te ontvang of dit wil aanstuur na die pêlle in exile, laat weet asb. Dit sal in MP3 formaat wees en ek sal selfs vir die tegnologies onderontwikkeldes onder ons verduidelik hoe om dit te gebruik.

Die tweede ding is dat my produksie “Die Beiteltjie” gekeur is vir Klein Karoo Kunstefees se hooffees, waaroor ek baie opgewonde is. Ek hoop om van julle daar te sien.

Resensies

Ek het dit goedgedink om van die ander kunstenaars wat ek ken te betrek by die nuusbrief deur vir hulle te vra om so nou en dan iets te skryf. Alexa Strachan was die eerste slagoffer met ‘n resensie:

Alexa op JK

As daar een ding gesê kan word – die skrywer hiervan is so na aan ‘n onvoorwaardelike Johannes Kerkorrel fan as wat kan kom. Laat daar ook gesê word dat ‘n onderskeid tussen genoemde Kerkorrek en JK, soos wat hy deesdae verkies om genoem te word, in hierdie geval verkieslik is. Want so saam met die naamverandering (soos ook in die geval van die politieke partye in die land) het die integriteit van die produk begin verminder.

Om te verduidelik: Ek sukkel om te dink aan ‘n kunstenaar wat met in die bestek van drie CD’s – vanaf Eet Kreef na Bloudruk, Cianide en Beefcake, sulke quantum leaps gemaak het wat musikaliteit en inhoud aan betref. En dis seker waar die probleem inkom – soos wat alle kunstenaars weet, is dit vrek moeilik om elke keer beter te wees as jou vorige werk. Mens bereik seker maar gereeld een of ander vorm van platvorm, waar jy dan bietjie rond-idle en vir ‘n tydjie in jou glorie bak, en dan, hopelik, verder groei. Die probleem kom wanneer jy gedruk word (deur jou bestuurder, jouself, jou ego of jou overdraft) om nuwe werk te skep sonder dat jy noodwendig nuwe idees het.

Miskien het JK die probleem, of miskien nie. Dit klink in elk geval vir my so. Die man het bietjie van sy edge verloor – dit kom nogal gereeld met die ouderdom en sukses saam, hy sal nie die enigste in Afrikaanse musiek wees met wie dit gebeur nie. Maar die punt is, ‘n mens wil nie van een van die ikone van alternatiewe (vervang die lg. sommer met goeie) Afrikaanse musiek clichés hoor soos “maar ek troos my daaraan elke hond kry sy dag en ook ek kan myne verwag”. Haai sjym.

As daar outobiografiese elemente in Die Sirkusdier is, is dit damn sad.
“ek gooi my pêrels voor almal in die grag
haal my beste nommer uit
ek haal nog eens die hoë noot
maar my hart is nie meer op my mou nie,
want die swyne het dit gister vertrap”
Sou dit beteken hy vervang sy sustansiële musiek en kritiek op al wat establishment is, met middle of the road, lekker-op-die-oor-gespeel-in-die-shopping-malls-musiek? En dit omdat die swyne hom vertrap en die kritici hom “te lig bevind”? En wie de hel is die swyne – ons? ‘n Kunstenaar wat voel dat hy “soos die engeltjie sing, maar my vlerke het gesmelt toe ek te hoog wou vlieg, en vir my straf moet ek live deur Suid Afrika dans” vat homself waarskynlik ernstiger op as wat hy sy gehoor opvat, en dan moet jy liewer vir jouself in die privaatheid van jou sitkamer sing, met net ‘n paar met die hand uitgesoekte vriende, respekvol geskaar rondom jou vleuel.

Die inhoud kon gewees het wat dit wou as die CD musikaal die moeite werd was. Maar die CD het ‘n monotone klank (my prokureur-boyfriend reken dis gewoon boring). Kan die rede wees omdat Kerkorrel self die verwerkings gedoen het? Bring dan terug die Didi Kriels, Marius Brouwers en Mauritz Lotze, maar gee ons, jou fans, weer (en ek weet dit sal jou die hel in maak) dit wat on verdien.

NS> Hierdie dan nou die verkorte weergawe van my opinie. My volledige opinie is gesteel saam die rekenaar tydens my kwartaallikse inbraak. Dalk ook maar goed so, ek het min genoeg vriende in die bedryf soos dit is!

Alexa Strachan

NUUS

Cutt Glas – Slegs glas, Glass only

Cutt Glas het vir die eerste keer die CD opnames ernstig opgeneem. “Slegs glas, Glass only” is by Bop Studio’s opgeneem (by verre die beste studio in SA) en verwerkings is gedoen deur Didi Kriel. Die CD word vrygestel op 29 Januarie in die Rendezvous.

Oujaarsaand

  • Alexa Strachan het ‘n bottel Moët Chardon, ‘n man en die see belangriker geag as die Abba Special op TV.
  • Anna Davel het op Heroldsbaai se strand in die reën geloop en wag dat die klappers afgaan, maar nooit besef dat vuur en water nie goed saamgaan nie.
  • Sunieda de Beer het haar hond “Waslap” probeer vashou en beteuel van die vuurwerke.
  • Ek was in ‘n wafferse 70’s uitrusting met blou brille, blink hemp op ‘n plaas in die middel van nêrens saam met ander Abba aanhangers.

Tot ‘n volgende keer

Herman van den Berg

 

 

 
sel: 083 232 1377
epos: info@hermanvdb.co.za
hermanvandenberg.eu brelinafrikaans.eu
 
Kopiereg © 2000 - 2017 Herman van den Berg.
Alle regte voorbehou.
webwerf ontwikkel deur Dumel
grafiese ontwerp - Chenette Swart