Nuusbrief << Keer terug na Herman se nuusbriewe
 

Musieksmaak is vir my ‘n reuse enigma. Gewoonlik kan mens iemand eien as een van die drie B’s, ‘n blues, Beethoven of boeremusiek mens, maar dit lê baie dieper as dit. Dis vir my asof jou musieksmaak iets weergee van wie jy werklik is. En dit het nie noodwendig te doen met musikaliteit nie (glo dit of jy wil, daar is wel boeremusiek musikante met “perfect pitch”). Is dit dalk ‘n refleksie op jou lewensuitkyk? Ek het om een of ander duistere rede verskuif (verval) van ‘n klassieke musiek junkie toe ek jonger was, na ‘n blues mens. Beteken dit ek het verander? En sal mens noodwendig oor die weg kom met ander van soortgelyke musieksmaak? Ek weetie!

Dis vir my wonderlik om iemand te ontmoet wat ook ‘n ernstige musiekluisteraar is. Iemand wat ure in ‘n CD winkel sal deurbring en onbekende musikante beproef. Iemand wat name noem waarvan jy nog nooit gehoor het nie. Dit behoort baie interessant te wees om te hoor waarvan julle hou. Stuur vir my asb. julle gunsteling musikante dan kan ek in die volgende nuusbrief ‘n opsomming gee. Miskien ontdek ons dalk ‘n nuwe musikale guru!

Komende Shows

As jy herinner wil word aan shows per SMS, stuur asb. vir my jou selfoon nommer.

Natuurlik is al die Afrikaanse name by KKNK, so ek gaan nie julle tyd mors nie, kom net!

Resensies

Laurika!

Dit was met min entosiasme dat ek Laurika Rauch se nuwe CD aangedurf het. Na die fiasko van “Mense op die Bus” het ek nie veel verwag nie. Maar ek was verstom! Alhoewel ek nie ‘n fan is nie en nie al die CD’s ken nie, wil ek tog die uitlating maak dat dit na my mening een van die beste Laurika CD’s is. Die verwerkings is goed, die songs is goed en die musikante is goed. Ek wens tog net sy wil ophou om Engels met ‘n Afrikaanse aksent te sing.

African Footprints

Hierdie keer is dit nie ‘n CD nie, en is ook nie Afrikaans nie, maar ek moes net:

Dit gebeur selde met my dat ek so lekker kry dat my voete vuiste maak. Toe gebeur dit in African Footprints, ‘n show waarvan ek niks verwag het nie. Dis ‘n dans en sang “extravaganza” uit eie bodem. Die sang is goed, maar nie briljant nie, maar die koreografie en dans was (vanuit ‘n leek se oogpunt) uitstekend. Wat dit nog meer indrukwekkend maak is dat geen van die dansers en sangers professionele opleiding gehad het nie. Hulle is spesiaal getooi vir die produksie en kom meesal van Soweto se strate af. Dit word aangebied by Gold Reef City en vergelyk na my mening met van die oorsese produksies wat ek al gesien het.

Nuus

CD vrystellings

  • Die volgende maand lewer baie op!
  • Wouter van de Venter se “Donker kant” – Afrikaanse rock!
  • Richard van der Westhuisen en Lochner de Kock se “Dorsland” saam met Andrew Roos
  • Lucas Maree se “Blouberg” – Volksliedjies met nuwe, vars tekste (en Brandewyn)

Die aanslag op Oudtshoorn

Oudtshoorn is seker al besig om laer te trek teen die aanslag wat gaan kom. Dit gaan seker een van die grootste konglommerasies van mense in ‘n klein dorpie wees wat Suid Afrika nog gesien het.

Vir die van julle wat gaan, vergeet van die boerewors en kyk shows! Sien julle daar.

Tot ‘n volgende keer

Herman

 

 

 
sel: 083 232 1377
epos: info@hermanvdb.co.za
hermanvandenberg.eu brelinafrikaans.eu
 
Kopiereg © 2000 - 2017 Herman van den Berg.
Alle regte voorbehou.
webwerf ontwikkel deur Dumel
grafiese ontwerp - Chenette Swart