Nuusbrief << Keer terug na Herman se nuusbriewe
 

Wat ‘n kermis! Die Klein Karoo Nasionale Kunstefees was die grootste nog en het alle verwagtinge oortref wat opkoms betref. Daar word beraam dat meer as 160 000 mense Oudshooren binnegevaar het in die week. Die kaartjieverkope was 165 451 (129 000 laas jaar). ROOI VLAG, ROOI VLAG! Hoe nou? Omtrent die helfde van die mense het met ander woorde nie enige vertoning gekyk nie behalwe die gratis vertonings wat op opelug verhoë aangebied was (die mense wat wel gekom het vir vertonings het nie net een kaartjie elk gekoop nie, dus skat ek dat dit omtrent die helfde is). KKNK is seker een van die beste dinge wat nog in/vir Afrikaans gebeur het – maar dit lyk asof die boereworsrolle en vlooimark die hoof aantrekkingskrag geword het. As dit die geval is voorspel dit slegte dinge vir Afrikaanse kuns en kultuur.

Maar genoeg daarvan. Die shows wat ek te siene gekry het was almal van hoogstaande gehalte. Die hoogtepunt was “De nieuwe snaar”, ‘n Nederlandse produksie. “Musikale komedie” is seker die term wat dit die beste beskryf. Vier narre spring op die verhoog rond op maat van die komiese musiek (wat hul self maak) en haal allerhande mannewales uit, onder andere begin een ou uit die bloute op gimnasium apperaat toertjies uitvoer. Vreemd voorwaar! Dit doen egter glad nie afbreek aan die kwaliteit van die musiek nie. Elkeen speel seker vier instrumente deur die vertoning – baie indrukwekkend!

Komende Shows

As jy herinner wil word aan shows per SMS, stuur asb. vir my jou selfoon nommer.

Resensies

Wess-lee

Wess-ley (ek het haar leer ken as Ansie) en haar man / musiekverwerker Marius Brouwer (Eass-lee?) doen dinge op ‘n groot skaal. As jy by die bekendstelling van die CD was, sal jy verstaan wat ek bedoel. Dit was in een woord, briljant. Die kwaliteit van die musiek is uitstekend, die verwerkings is van die beste wat ek nog uit Suid Afrika hoor kom het en die show was wonderlik. Ek dink hulle is bestem vir groot dinge! Kyk uit vir die CD, Merry-go-round.

Nuus

Onder draai die duiwel rond!

Jolette Odendaal (van Cutt Glass faam) is seker een van die mees skadelose mense wat ek ken, of so het ek gedink! Wikus du Toit het gou geleer jy dans nie te rof met haar nie, want sy’s geneig om so opgewonde te raak dat sy vingers breek. Wikus loop nou nog met ‘n verband om die vinger rond, twee weke na die voorval. Jolette sê dis net om haar te laat sleg voel.

Tot ‘n volgende keer

Herman

 

 

 
sel: 083 232 1377
epos: info@hermanvdb.co.za
hermanvandenberg.eu brelinafrikaans.eu
 
Kopiereg © 2000 - 2017 Herman van den Berg.
Alle regte voorbehou.
webwerf ontwikkel deur Dumel
grafiese ontwerp - Chenette Swart