Nuusbrief << Keer terug na Herman se nuusbriewe
 

Kabaret?

Een van my eerste verhoog blootstellings was as deel van Tukkies se kabaretgroep en daarvoor het ek nogal gaan oplees oor wat kabaret eintlik is. Sederdien het ek besef ons is besig om die vorm heeltemal te verdraai.

Kabaret het blykbaar in Parys en van die ander groot stede in Europa ontwikkel en was aanvanklik sosiale kritiek, veral teen die adelstand. Dit was nie noodwendig vermaak nie. Wat interessant is, is dat die kunsform toe byval gevind het by die adel self. Dit lyk of hulle dit geniet het om uitgevreet te word oor hul belaglikhede.

Twee van die beste opsommings vir kabaret vir my is "'n Knyp in die binneboud" (Hennie Aucamp) en "die gehoor moet lag en dan skuldig voel omdat hulle gelag het". Kabaret is in my opinie beslis nie 'n voertuig vir musiek soos dit deesdae gebruik word nie. Die musiek moet inteendeel die tema of boodskap van die kabaret versterk en ook sosiale kommentaar lewer. Aan die ander kant, miskien is ons besig om ‘n nuwe kunsform “Die Afrikaanse Kabaret” te skep!

Nuus

Boom boom boom boom word stil!

Johnny Lee Hooker, een van die vaders van blues is onlangs oorlede op ‘n rype ouderdom van 84. Hy het sy laaste album gemaak op ‘n ouderdom van 81 (as ek reg onthou)! Dit wys jou dat musiek vir die ouer garde nie ‘n manier was om bekendheid te verwerf of geld te maak nie, maar ‘n deel van lewe was.

UKkasie

Die terugvoer van Ukkasie is dat dit ‘n wonderlike geleentheid was, maar dat die organisasie daarvan ‘n effens te kort geskied het. Blykbaar was vertonings tot kort voor die begin van die vertoning nog geskuif van venues. Dit was ook blykbaar die warmste naweek in jare in London, so die son het seker wel geskyn oor die expatriots.

Resensies

Karin Zoid

Ek het die show gesien, die CD geluister maar heelaas, die T-hemp sal ek nie koop nie. Karin Zoid is die warm nuwe naam onder meer alternatiewe musiek (Afrikaans en Engels). Ek het ‘n show van haar en haar band gaan sien en was beindruk met die songs en die vibe. Die klank van die band was nie uitstekend nie, maar dit het by die venue gepas. Ek het uitgestap en gedink, man, hier kom groot dinge. Maar toe hoor ek die CD - wat ‘n teleurstelling, veral met die dat EMI hulle borg en versprei. Ek sou darem verwag van ‘n groot maatskappy om bietjie meer moeite te doen met die produksie. Desnieteenstaande het ek onlangs een van die songs gehoor op die 5-F se High 5 at Five (dit beteken dis in die top 25), so miskien is ek heeltemal uit lyn uit.

Alexa en Valiant!

‘n Resensent het by Oudshooren die kritiek gelewer dat Honeymoon in Kammaland ‘n sameflansing is van Valiant Swart en Alexa Strachan se treffers en nie ‘n kabaret wat op sy eie voete staan nie. (Alexa vind dit baie snaaks aangesien sy nog nooit in haar oë ‘n treffer gehad het nie.) Honeymoon in Kammaland is volgens Alexa die opvolg van Om ‘n eier te lê en ‘n Gewone man, so ek was nuuskierig om mee te begin. Teleurgesteld was ek nie! Die teks was bindend , Alexa se toneelspel was baie goed, die atmosfeer was daar en mnr. Cool homself (ja, Valiant) was cool verby. As ek moet eerlik wees moet ek sê ek het al heelwat van die songs wat Valiant gedoen het voorheen gehoor, so miskien het die resensent tog grond gehad om op te staan. Dit het my egter nie so erg gepla nie, want dit het goed ingepas. Die penarie waarin die show hom egter bevind volgens Alexa, is dat dit te veel kos om op die planke te hou, so miskien het ek die laaste Honeymoon in Kammaland gesien, wat sad sal wees!

Tot ‘n volgende keer, en onthou om die nuusbrief te forward aan enigeen wat sal belangstel om dit te ontvang.

Herman

 

 

 
sel: 083 232 1377
epos: info@hermanvdb.co.za
hermanvandenberg.eu brelinafrikaans.eu
 
Kopiereg © 2000 - 2017 Herman van den Berg.
Alle regte voorbehou.
webwerf ontwikkel deur Dumel
grafiese ontwerp - Chenette Swart