Nuusbrief << Keer terug na Herman se nuusbriewe
 

Waar is die Mozarts van vandag?

Ek wonder soms wat het van hedendaagse musikante se vermoë om te werk en toewyding geword. En ook, wie van die musikante waarna ons nou luister sal onthou word as geeste van die tyd oor ‘n honderd of tweehonderd jaar? Ter interessantheid het ek ‘n vergelykende oefening gedoen tussen Mozart en ‘n moderne musikant.

Mozart het in sy leeftyd van 35 jaar 626 werke gekomponeer waarvan ons bewus is. Dit beteken dat, indien hy begin komponeer het toe hy tien jaar oud was, hy gemiddeld elke twee weke ‘n nuwe werk gekomponeer en genoteer het. En die werke is nie liedjies nie - onder die werke is 41 simfonieë, 27 klavierkonserte, 23 strykkwartette, 17 sonatas en 7 operas. Om een van hierdie werke te noteer, beteken dit ‘n part moet uitgedink en uitgeskryf word vir elke instrument in die orkes. Ek het ‘n konserwatiewe berekening gemaak dat dit ongeveer 250 ure sal neem om al sy musiek deur te luister.

In teenstelling bring ‘n moderne musikant so een keer in twee jaar miskien ‘n CD met ongeveer 12 snitte uit. Dit beteken dat indien die musikant vir 25 jaar musiek maak (dieselfde tyd wat ek gebruik het vir Mozart se berekeninge), hy ‘n totaal van 13 ure se musiek opgeneem het, en boonop hoef hy nie parte uit te geskryf het soos in die dae van Mozart nie. Dit laat mens nogal wonder, nê!

Dalk wonder ek juis op hierdie stadium oor die dinge want tussen werk en my pogings om nuwe songs klaar te skryf vir my volgende CD voel dit of ek hardloop maar nêrens uitkom nie.

Nuus

Valiant “Siener” Swart

Op 10 September, ‘n dag vóór die gebeure in New York, stuur Valiant se platemaatskappy, Rhythm Records, ‘n CD met drie snitte na radiostasies. Dié kort CD dien as ‘n voorskou van sy nuutste CD wat oor twee weke uitgereik word. Die laaste snit op die CD is getiteld "Die Bom Kom". En agter op die CD se omslag is ‘n Passasiersvliegtuig wat in ‘n ring van sterre invlieg. Alles vervaardig meer as 2 weke vóór die gebeure van 11 September in New York.

Om alles te kroon was Valiant op 11 September (die dag van die aanval in New York) aan boord van ‘n "American Airlines" vlug vanaf Heathrow na Chicago, waar hy moes aansluit by ‘n TV span vir die vervaardiging van ‘n KykNet program "Die Vyftig Dollar Gig" oor die geskiedenis van die Blues. Sy vlug is herlei na Kanada waar hy wag op ‘n aansluitingsvlug na Chicago.

Met woorde soos ... "Ek en my broers was baie onrustig, ons was seker dat iets boos gaan gebeur ..." en ‘n refrein wat herhaal "Die Bom Kom, Die Bom Kom" en verder: "Die dag na die slag was as al wat daar was" en "die laaste vlam het ons almal kom haal", kan mens nie anders as om aangegryp te word deur die verbysterende ooreenstemming daarvan met die werklikheid nie.

(Uit http://www.sarockdigest.com/)

Aardklop

Vanjaar se Aardklop was die eerste fees sedert die eerste Klein Karoo Kunstefees en Aardklop wat ek nie deelgeneem het nie, en dit uit vrye wil. Maar heelaas, my voorname het nie lank gehou nie. Die aand voor die laaste naweek van die fees kry ek woeste onttrekkingsimptome en spring toe die volgende oggend in die motor Potchefstroom toe.

Ten spyte van die kermis atmosfeer (of miskien as gevolg daarvan) was dit ‘n “vibe”. ‘n Kort opsomming van wat ek gesien het:

  • Die Kabaret: Vreemd, maar goed. Ek dink die simboliek en idees was uitstekend maar dit was heeltemal te diep vir die gehoor en was beslis nie goeie vermaak nie. Dit het so ‘n bietjie uitgerafel na die einde toe. Die musiek was goed.
  • Vlees: ‘n dansvertoning met visuele effekte wat wonderlik vars en goed afgerond was. Ek was soms heeltemal weggevoer. Vlees het ook die Aardvark prys gekry (beste vertoning by die fees).
  • Kafe Burlesque: goeie vermaak, hier en daar baie snaaks, maar effens min om die lyf na my sin.

Ek is baie nuuskierig om te hoor wat julle gesien het daar en wat julle opinies was. Stuur dit asb. vir my dan kan ek dalk in die volgende nuusbrief ‘n beter opsomming gee.

Geraas Toekennings

Vir die wat dit gemis het:

  • Beste Afrikaanse Album: Op ‘n Klein Blou Ghoen - Amanda Strydom
  • Beste Kontemporêre Album: Op ‘n Klein Blou Ghoen - Amanda Strydom
  • Beste Jazz Album: Playola - Paul Hamner
  • Beste Rock Album: Poles Apart - Karen Zoid
  • Beste Esoteriese Album: Mondmusiek - Breyten Breytenbach & Ander
  • Beste Humoristiese Album: Snykant / Cutts - Cutt Glas
  • Beste Duo of Groep: Huistoe - Beeskraal
  • Beste Pop Album: Die Ander Kant - Johannes Kerkorrel
  • Beste Boeremusiek Album: Hier’t Jou Lekker Ding - Brian Nieuwoudt
  • Beste Afrikana Album: Liedjies van Lief en Leed Deel 2 - Verskeie
  • Beste Gospel Album: Reana - Reana
  • Beste Crossover Album: Beste van Bos - Stef Bos
  • Beste Liedjieskrywer: Mel Botes
  • Beste Nuweling: Poles Apart - Karen Zoid; Reana - Reana
  • Beste Verwerker: Johannes Kerkorrel - Die Ander Kant
  • Beste Klankingenieur: Didi Kriel & Derrick Louw - Slegs Glas / Glass Only - Cutt Glas
  • Beste Vervaardiger van 'n Afrikaanse Album: Anton Goosen & Albert du Plessis - Om Te Breyten
  • Vuurdoop Toekenning: Mel Botes
  • Lewenslange Bydrae tot Afrikaanse Musiek: Anton Goosen
  • Beste Suid Afrikaanse Musiekgebeurtenis: Klein Karoo Nasionale Kunstefees
  • Liedjie van die Jaar: Skarumba - Juanita du Plessis
  • Beste Live Optrede: Theuns Jordaan
  • Beste Afrikaanse Verkoper: Ek en Jy - Juanita du Plessis
  • Beste Koor Album: Kyrie - Die Potchefstroomse Universiteitskoor
  • Beste Klassieke Album: Air - Melane Hofmeyr-Burger
  • Beste Alternatiewe Album: ‘n Pleister vir my Nerwe - Riku Latti

Resensies

Geen CD resensies hierdie keer nie, maar ‘n paar vertonings.
Johnny Clegg

Ek het skaamteloos gehuil (van lekkerkry) en gedans soos nog nooit vantevore nie. Dit was absoluut briljant! Die hele Civic Theatre het opgestaan en begin dans op hul plekke of in die gange tussen die stoele. Ek kan nie veel meer sê nie behalwe dat dit mens trots maak op ons land se musiek.

Stef bos

Vir die eerste keer het ek Stef sonder sy orkes gesien optree. Dit was net hy en ‘n klavier en ‘n kitaar (wat hy biede self gespeel het). Die musiek was goed, die atmosfeer was intiem en sy stories was interressant en op plekke vrek snaaks (miskien omdat alles vir my snaakser klink in Hollands). Wat Stef Bos vir my laat uitstaan bo ander is die oorgawe waarmee hy sing. Dit is aansteeklik! Sy musiek raak vir my hier en daar egter ‘n bietjie eentonig.

Nataniël

Nataniël is seker een van die beste kabaret storievertellers in Suid Afrika. Hy kry dit reg om jou die een oomblik na aan trane te hê en die volgende oomblik te laat uitbars van die lag. Ek het nog nooit van die tipe musiek gehou wat hy maak nie, maar ek moet erken dit was goed afgerond en veral die orkes het hulle goed van hul taak gekwyt.

Nou ja, tot ‘n volgende keer dan, en onthou om die nuusbrief te forward aan enigeen wat sal belangstel om dit te ontvang.

Herman

 

 

 
sel: 083 232 1377
epos: info@hermanvdb.co.za
hermanvandenberg.eu brelinafrikaans.eu
 
Kopiereg © 2000 - 2017 Herman van den Berg.
Alle regte voorbehou.
webwerf ontwikkel deur Dumel
grafiese ontwerp - Chenette Swart