Nuusbrief << Keer terug na Herman se nuusbriewe
 

Die Selfkastyders

Wat laat iemand besluit hy(sy) klim nou op ‘n verhoog en blaker sy lewe uit aan mense wat hom(haar) nie eers ken nie? In my geval was dit fasinasie met musiek wat my die eerste keer op ‘n verhoog laat klim het, en glo my ek het amper gesterf van stres. Maar hoekom is dit baie erger as om ‘n voorlegging te doen vir besigheid (wat gewoonlik gaan oor bedrae waarvan kunstenaars nie eers droom nie). Ek noem hulle (insluitend myself) selfkastyders. Selfkastyders val vir my in twee kategorieë.

Die eerste is die eksibisionistiese selfkastyder. Gewoonlik het hulle geen benul van hulle werklike vermoëns nie maar als word met soveel oorgawe gedoen dat almal dink hulle is briljant. Hulle praat gewoonlik veels te hard en neem uitspattige gewoontes aan, “because, doll, you have to be seen to feel important”. En waar is dit makliker om te wys, sonder dat jy as abnormaal geklassifiseer word, as op die verhoog? Ek moet bysê, ek ken ‘n paar uiters uitspattiges wat tog wel briljant is, maar ek wonder soms of dit ‘n gevolg is van die dryf tot selfkastyding dat hulle so goed geword het en of die persoonlikheid saam met die talent gaan.

Die tweede tipe is die onwaarskynlike slefkastyder. Die tipe het min vertoue in hulself maar baie talent. Hulle neem lank om die moed bymekaar te skraap om op die planke te tree, maar o wee, soms is daar geen keer sodra hulle dit geproe het nie. Maar ongelukkig kom weinig van die onwaarskynlike selfkastyders die mas op. Ek ken baie mense met onmenslik baie talent wat nou ingenieurs, onderwysers of professionele lotbeklagters is wat niks doen met hulle gawes nie. Maar hoekom verdwyn hulle in die massas? Ek dink dis ‘n gebrek aan geleentheid en blootstelling. Die kunstefeeste doen deesdae ontsettend baie om dit reg te stel, maar toe ek jonger was was daar niks van die aard nie, so ek het liedjies in die stort gesing en gehoop die bure hoor my nie. Ek dink die beste plek om te begin is om op te tree vir vriende, maar dit voel soms vir my of dit glad nie meer gedoen word in die moderne samelewing nie. Miskien mis ons die plot.

Nuus

Alexa vir hoofmeisie!

As daar nou poppies is met wie jy nie sukkel nie is dit die vroulikes onder die kunstenaarsgeledere. Alexa Strachan het in Anna Davel se voetspore gevolg en met hand en tand terugbaklei toe ‘n boef haar handsak gryp. Sy was op pad terug van ‘n fotosessie af, so al haar antieke juwele was in die handsak en sy het sumier besluit daar is nie ‘n manier nie! Die boef het met niks behalwe ‘n gekwesde selfbeeld uit die stryd getree. You Go Girl!

Al Rooi Rose se Jazz

Rooi Rose baan die weg met ‘n nuwe Afrikaanse Jazz CD met baie van die bekende vroulike musikante. Dis nog nie vrygestel nie maar ek hoor dit is iets om na uit te sien! Ek belowe ‘n resensie.

Meer Afrikaans Op Die Lug

Radio KFM en Radio Jakaranda FM wil sekerlik meer Afrikaanse musiek oor die lug speel, maar kan dit vanselfsprekend nie doen sonder die luisteraars se hulp nie. (Die profiel wat bv. Afrikaanse musiek sal geniet, word bepaal deur die persentasie mense wat in jaarlikse meningspeilings aandui dat hulle belangstel om dit te hoor.) Tot nou toe het hierdie resultate gewys dat niemand werklik in Afrikaanse musiek belangstel nie, niemand in Suid-Afrika Afrikaans praat nie en dat niemand Huisgenoot lees nie.

Hierdie is 'n beroep op al die mense wat Afrikaanse musiek Platinum laat bereik, maar dit nooit luister nie. Almal wat nooit die Huisgenoot koop nie, (ABC syfer: Jan tot Jun 2001: 360791 per maand) maar nogatns almal doodpraat by die braaivleis, oor alles wat raar en interessant is.

Indien ek net kan deurdring tot hierdie geselekteerde groepie Afrikaanssprekendes en elkeen sover kry om 'n e-pos te rig aan KFM Radio en Radio Jakaranda FM en baie kortliks motiveer waarom ons graag na Afrikaanse musiek op die gesogte radio-stasies wil luister. Dan is alles omtrent musiek.co.za die moeite werd.

Kfm 94.5. speel 'n minimum van 25% Suid Afrikaanse musiek. Ek neem aan Jakaranda FM doen dieselfde. Ons verwag nie meer as 25% nie, net 'n bietjie groter deel daarvan vir Afrikaanse musiek. Veral die snitte wat wel gewild is.

KFM : Felicia Roman e-pos: felicia@kfm.co.za
Jakaranda: Mohamed Shaikh e-pos: mohamed@jacarandafm.com

(Geleen uit www.musiek.co.za )

Nou ja, tot ‘n volgende keer dan, en onthou om die nuusbrief te forward aan enigeen wat sal belangstel om dit te ontvang.

Herman

 

 

 
sel: 083 232 1377
epos: info@hermanvdb.co.za
hermanvandenberg.eu brelinafrikaans.eu
 
Kopiereg © 2000 - 2017 Herman van den Berg.
Alle regte voorbehou.
webwerf ontwikkel deur Dumel
grafiese ontwerp - Chenette Swart