Nuusbrief << Keer terug na Herman se nuusbriewe
 

Die Klein Karoo Nasionale Kermis?

Wat is kuns en wat is vermaaklikheid? Is dit moontlik om ‘n suksesvolle kunstefees te hou maar nog steeds oorspronklike kuns en musiek te bevorder?

Dit is die kwessies wat ek al meer onder die kunstenaarsgeledere hoor. KKNK was ‘n dawerende sukses in terme van finansies en bywoning, maar deur die bank was die eerste repliek wat ek van almal gehoor het dat dit ontaard het in ‘n kermis. Daar word beraam dat daar heelwat meer mense as verlede jaar by die fees was (±30 000 per dag), maar slegs 3500 meer kaartjies is verkoop (wat vir my ‘n paar rooi vlae laat opgaan). Die kunste is blykbaar glad nie meer op die voorgrond nie en die tipe produksies wat te sien is, veral op die opelug verhoë, grens aan “Kitch”. Ek was nie persoonlik daar nie en sal graag meer terugvoer wil hê, so as iemand lus voel, laat my weet wat julle indrukke was. My opinie is egter dat, kermis of te not, sonder die KKNK sou Afrikaanse kunste baie armer gewees het.

Blykbaar was die musikale hoogtepunte Valiant Swart en Laurinda Hoffmeyr.

Resensies

Al daai Jazz!

Verbeel jou al die beste vroulike stemme in musiek op een verhoog wat jazz in Afrikaans sing. Glo my, dis ‘n belewenis. Beslis die moeite werd om te gaan kyk. Nie veel meer om te sê nie behalwe vir ‘n handeklap vir Rooi Rose wat dit gereël het.

Reana Nel

Ek het vir Reana die eerste keer ontmoet by Crescendo toe sy nog op skool was, en by die geleentheid het sy my al beïndruk met haar vars musiek. So dit was met groot afwagting dat ek die CD te hore gekry het. Die musiek is goed, die verwerkings is uitstekend (alla Mauritz Lotz) en dit is in my oë ‘n suskes. Ek dink sy volg nog soms te veel in ander se spore sonder om haar eie styl te volg wat die musiek aan betref, maar dis ook ‘n ding wat seker met tyd kom. Ek is seker sy gaan dit nog vêr bring.

Nianel

En nou vir die verrassing. Nianel is Reana Nel se suster (dis nou as my inligting korrek is). Ek het haar vertoning al twee keer bygewoon en het haar al ‘n hele paar keer op radio te hore gekry. Soos Reana, het sy ook ‘n baie wonderlike stem en die songs is goeie gehalte, maar in die geval in Engels. Sy is baie gemaklik op die verhoog, wat haar vertonings nog aangenamer maak. Gaan kyk gerus.

Nuus

Jannie du Toit breek sy stilte

Jannie is besig om na ‘n lang stilte te werk aan ‘n nuwe CD. Dit word by Marius Brouwer opgeneem (die brein agter Wess-Lea), so dit beloof baie.

Aardklop buig onder aansoeke

Meer as 600 aansoeke is ontvang vir Aardklop fees wat plaasvind in September in Potchefstroom, waarvan slegs 75 gekeur gaan word. Ek het baie simpatie met die beoordelaars wat moet besluit wat gekeur gaan word en baie vrae oor hoe mens ooit kan bepaal wat is die aangewese produksies.

CD

My volgende CD is sterk aan die gebeur en behoort middel Julie vrygestel te word, so hou julle oë en ore oop.

Nou ja, tot ‘n volgende keer dan, en onthou om die nuusbrief te forward aan enigeen wat sal belangstel om dit te ontvang.

Herman

 

 

sel: 083 232 1377
epos: info@hermanvdb.co.za
hermanvandenberg.eu brelinafrikaans.eu
 
Kopiereg © 2000 - 2017 Herman van den Berg.
Alle regte voorbehou.
webwerf ontwikkel deur Dumel
grafiese ontwerp - Chenette Swart