Nuusbrief << Keer terug na Herman se nuusbriewe
 

Uiteindelik kry ek die geleentheid om in London op te tree. Sien Vertonings vir meer inligting en laat asb. al die Pêlle in Exile weet.

SAMA

Soms dink ek ons blankes het nie ‘n idee wat aangaan in die musiekbedryf in Suid Afrika nie. Ek was onlangs by die South African Music Awards seremonie gewees (nee, ongelukkig nie gewen nie; Coenie de Villiers het met ZEN gewen). Wat ‘n ervaring en wat ‘n ontnugtering om te sien hoe klein Eurosentriese musiek is in die groot SA prentjie. Om julle ‘n voorbeeld te gee, hier is ‘n opsomming van die beste verkopers van verlede jaar:

 
Afrika musiek
Eurosentriese musiek
   
Engels / Jazz
Afrikaans / Boeremusiek
Goud
25000+
23
6
4
Platinum
50000+
20
0
1
Dubbel Platinum
100000+
6
1
0
Multi Platinum
200000+
3
0
0
TOTAAL
52
7
5

As mens die somme maak, maak Eurosentriese musiek maar 12.5% van die SA mark uit!

Wat verder vir my interessant is, is dat sogenaamde Engelse “Adult Contemoporary” musiek glad nie in die bogenoemde prentjie is nie, behalwe vir Heinz Winkler wat Dubbel Platinum gekry het. Theuns Jordaan het Platinum verkoop en drie kindermusiek albums en twee boeremusiek albums het Goud gemaak.

Resensies

Stefan Lombard - Alleen

Alleen is ‘n Afrikaanse Rock CD wat sekerlik gebore is uit ‘n Pubsinger millieu. Stefan se stem is iets soos díe van Theuns Jordaan en songs is solied, maar soms effens voorspelbaar na my smaak. Die verwerkings is eenvoudig maar effektief vir die styl musiek. Daar is ‘n goeie weergawe van Johannes Kerkorrel se Hillbrow en ‘n medley van Koos Kombuis maar verder is die meeste van die songs deur Stefan self geskryf. Srefan het beslis ‘n resep vir sukses en sal heel waarskynlik oor die tyd ‘n goeie gevolg opbou.

Kombuis, Kerkorrel, Bernoldus - Voëlvry die Toer

Hierdie is ‘n CD wat heel waarskynlik nog Afrikana gaan word. Dis ‘n uitstekende huldebleik aan drie kunstenaars wat ‘n reuse ommeswaai in die musiekindustrie (en Suid Afrika) te weeg gebring het. Johannes Kerkorrel en Bernoldus Niemand is nou albei tragies oorlede en Koos Kombuis bly steeds ‘n ikoon van alternatiewe Afrikaanse musiek. As mens na die musiek luister, word jy meegevoer na ‘n tyd toe musiek gerebelleer het teen ‘n politieke bestel wat nie meer deur die jeug gerespekteer was nie. Die CD is ‘n lewendige opname wat mens dadelik meesleur en laat wens jy was daar. Vir ‘n lewendige opname en die tyd waarin dit opgeneem is, is die klank verbasend goed, maar dis nie tegniese goed waaroor dit hier gaan nie, dis guts! Soos Koos Kombuis self sê, hulle was soms skytbang, maar met iets wat hulle nie noodwendig aanvanklik as alternatief gesien het nie, het hulle iets laat ontlont wat nou nog by ons is – hulle het geboorte geskenk aan Afrikaanse alternatiewe rock, en die val van die Botha regime ‘n reuse hupstoot gegee.

Vertonings

Ek:

Wanneer: 29 Junie, 19:00
Waar: London, The Artesian Wells, 693 Wandsworth Rd (c/o North St), SW8
Naaste tube: Clapham Common
Kaartjies: Ludwig Wagner: +44 7771701942 of 020 - 8767 8992

Nou ja, tot ‘n volgende keer dan, en onthou om die nuusbrief te forward aan enigeen wat sal belangstel om dit te ontvang.

Herman

 

 

 
sel: 083 232 1377
epos: info@hermanvdb.co.za
hermanvandenberg.eu brelinafrikaans.eu
 
Kopiereg © 2000 - 2017 Herman van den Berg.
Alle regte voorbehou.
webwerf ontwikkel deur Dumel
grafiese ontwerp - Chenette Swart