Nuusbrief << Keer terug na Herman se nuusbriewe
 

My “sabbatical” het toe langer geneem as wat ek gedink het. Vir die wat nie weet nie, ek het so ‘n jaar terug ‘n baba ryker geword en ‘n hele paar slaap-ure armer geword. As jy dit nog nie ervaar het nie, glo my dis woes! Maar nou’s ek terug met ‘n nuwe uitkyk op ‘n klomp goed en hopelik ‘n hoop vars idees.

Sedert ek laas geskryf het, het so baie goed gebeur in die musiekwêreld dat ek nie eers gaan probeer om dit als te dek nie. Daar was weer feeste, Geraas toekennings, nuwe CD’s en hier en daar die gebruiklike vuisgevegte.

Vars nuus is die SAMA nominasies. Vir Afrikaans is die volgende albums benoem:
Amanda Strydom - Verspeide donderbuie
Anna Davel - Gypsy
Anton Goosen - Anton & Vrinne - Live in die Staatsteater
Dozi - Siyaya Ons Gaan ...
Lize Beekman - Iemand het gesê

‘n Verrassende afwesigheid in die lys is Karin Zoid wat by verre met die meeste Geraas toekennings weggeloop het. Dit laat mens wonder hoe subjektief kompetisies eintlik is.

Op ‘n meer persoonlike vlak het ek die afgelope ruk drie CD’s ontdek wat vir my tot heelwat inspirasie gelei het. Mark Knopfler (van Dire Straits faam) se album The Ragpicker’s Dream is ‘n vars nuwe rigting naamlik tradisionele folk. Die Klankbaan van Talk To Her (soek onder Hable Con Ella) deur Alberto Iglesias is van die beste moderne instrumentale (klassieke) musiek wat ek in ‘n lang tyd gehoor het. Paar van die snitte is nogal atonaal, maar die res is beautiful. Muse se nuutste album Absolution is my fonds van die afgelope tyd. Dit is alternatief so sal nie in almal se smaak val nie, maar dis vir my musiek wat my ribbes aan mekaar laat krap van lekkerkry.

Ek het intussen ‘n paar van my eie Engelse songs herontdek en ‘n paar nuwe instrumentale goed geskryf wat julle waarskynlik te hore sal kan kry by my volgende optredes.

Vir Vigs

Twee CD projekte ten bate van Vigs (waarvan ek weet) het die afgelope tyd die lig gesien. Die eerste is ‘n samestelling van songs uit verskillende genre’s genaamd “Hope for Aids” (waarvoor daar ‘n opvolg ook beplan word) en die tweede is ‘n CD single deur Lise Beekman en Vusi Mahlasela.

Die laasgenoemde is vir my nogal ‘n mooi storie. Adél ???, Revlon se bemarkingsbestuurder, het een oggend in ‘n motor beland saam met Lize Beekman en hulle het aan die praat geraak oor Vigs. Revlon is baie aktief betrokke by ‘n tehuis vir Vigs kinders. Lize gryp toe die kitaar nader en sing terstonds ‘n Vigs song wat sy geskryf het. Adél was so beïndruk dat sy op die daat gevra het of Revlon die opneem van die song kan borg en die winste van die CD kan gebruik vir die tehuis. So is die CD “All the Same” gebore met een van die mooiste en eerlikste songs wat ek nog oor Vigs gehoor het. So as julle die CD sien, koop dit! Dis nie net vir ‘n goeie doel nie, dis beautiful musiek daarby.

Vertonings

Wanneer:   15 Mei, 18:30
Waar:   Johannesburg
13 Yvette straat, Robin Hills
Kaartjies:   R110 (sluit ete in)
Kontak:   Louis of Liesel: 082 290 4949
     
Wanneer:   22 Mei
Waar:   Bethal
Kontak:   Johanneke: 083 655 8699
     
Wanneer:   25 Junie
Waar:   Moonbox; Pretoria
Kontak:   Ilse: 082 927 0263

Nou ja, tot ‘n volgende keer dan, en onthou om die nuusbrief te forward aan enigeen wat sal belangstel om dit te ontvang.

Herman

 

 

 
sel: 083 232 1377
epos: info@hermanvdb.co.za
hermanvandenberg.eu brelinafrikaans.eu
 
Kopiereg © 2000 - 2017 Herman van den Berg.
Alle regte voorbehou.
webwerf ontwikkel deur Dumel
grafiese ontwerp - Chenette Swart