Nuusbrief << Keer terug na Herman se nuusbriewe
 

Dankie Tog Vir Oumas En Vakansies

Laas jaar was nogal ‘n stryd. Die ding staan so: die werk raak al hoe meer uitdagend, by die huis is daar twee klein, baie besige beentjies wat als wat kan breek ronddra, en as die beentjies uiteindelik ophou skop en aan die slaap raak is ek voos. En boonop het ek skielik besef ek word ouer! So dit het maar broekskeur gegaan met die musiek. Gelukkig het die kort vakansie oor Desember (en oumas wat na klein beentjies omsien) tot die redding gekom en het die musiek my weer nou en dan kom besoek. Nou skemer daar ‘n lus vir ‘n nuwe CD deur.

Die vraag is egter wat ek nou wil doen. Ek het heelwat Engelse songs wat ek al lankal wou opneem, maar aan die ander kant is Afrikaans die taal waarin ek dink en droom. Intussen het ek ook heelwat instrumentale musiek geskryf. Die een ding waaroor ek nogal sterk voel, is om nie ‘n mengelmoes van Afrikaans en Engels op ‘n CD te sit nie. So miskien sien twee CD’s die lug vanjaar!

Ek sal graag wil hoor wat julle dink van CD’s waarop Afrikaanse en Engelse songs vermeng word. Ek sal met die volgende nuusbrief die resultate opsom.

- Ek gee nie om nie, meng maar
- Neutraal
- Nee, dis of Afrikaans of Engels

Ek het darem nie heeltemal stilgesit laasjaar nie. ‘n Wonderlike projek is van loots gestuur saam met FNB en die Universiteit van Pretoria. Ek het al lankal die idee in my agterkop om ‘n animasie video te laat maak vir Kraatjie Melaaitjie, so toe FNB my kontak met ‘n moontlike borg vir ‘n musiek video, het ek dadelik met die voorstel gekom om dit ‘n studenteprojek te maak in samewerking met die Universiteit van Pretoria. Die idee het vinnig gegroei en uiteindelik so teen die einde laas jaar het ek ‘n klomp musiekvideos gehad om van te kies. Ek het besluit op ‘n wonderlike een van Dana Scott. Dit sal een van die dae op TV verskyn, sou hou dop! Ek is baie dankbaar vir Franzo Frieddrich van FNB, Chennette, Suzette en die studente van UP en Moving Billboard (wat die video materiaal opgeneem het).

‘n Stukkie goeie nuus: my CD’s word nou versprei deur Select, so sal miskien nou meer geredelik in winkels beskikbaar wees as met die vorige verspreiders.

Nuus

  • Mauritz Lotz beplan om ‘n nuwe CD te maak vanjaar. Mauritz is ‘n formidabelle musikant en kitaarspeler vir wie omtrent elke musikant wat ek ken ‘n heilige respek het. Ek verloor my telkens in sy Earthtones CD, so ek kan nie wag nie.
  • Anna Davel het begin met ‘n nuwe CD wat belowend klink. Ek was bevoorreg genoeg om die guide tracks to hoor. Kyk uit hiervoor!

Vertonings

Wanneer: 12 Februarie
Waar: NG Kerk, Greymont, Johannesburg
Kontak: Hanna Marais 082 782 2532

Wanneer: 11 Maart
Waar: Jan-Harmsgat, Cullinan
Kontak: e-pos: janharmsgat@mweb.co.za
(012) 734 0536 of 082 2552 465

Herman

 

 

 
sel: 083 232 1377
epos: info@hermanvdb.co.za
hermanvandenberg.eu brelinafrikaans.eu
 
Kopiereg © 2000 - 2017 Herman van den Berg.
Alle regte voorbehou.
webwerf ontwikkel deur Dumel
grafiese ontwerp - Chenette Swart