Nuusbrief << Keer terug na Herman se nuusbriewe
 

Smaak My So!

Ek het die afgelope tyd myself ‘n interessante kwessie begin afvra: Waar kom musiek smaak vandaan? Is dit geneties of aangeleer? Wat of wie bepaal dit?

Dit het als begin met die Brel vertoning wat ek die afgelope tyd begin opvoer het. Brel se musiek is baie anders as die moderne en tradisionele Afrikaanse musiek, maar tog het ons as Afrikaans sprekendes baie soortgelyke wortels as Brel. Hy was ‘n franssprekende Vlaming, en Frans en Vlaams is seker die sterkste gene in ons mondering.

Ter interessantheid: die verdwyning van Frans as spreektaal in Suid Afrika was een van die vinnigste verdwynings van ‘n taal in die geskiedenis. Dis veral verbasend as mens in ag neem dat die Nederlanders in 1652 hier geland het, en die Franse in 1688, slegs 36 jaar later. Blykbaar het die V.O.C. die ongetroude Franse vrouens letterlik gedwing om met Nederlandse boere te trou, so die uitwissing van Frans was ‘n doelbewuste besluit. Die uitwissing was so effektief dat daar in 1726 (38 jaar na hul aankoms) slegs twee ou tannies was wat nog Frans gepraat het. Daar het wel ‘n paar goed uit Frans oorgebly (behalwe die gene, wyn en Franschhoek), waarvan die interessantste een vir my die wederkerende “nie” in Afrikaans is.

Nou ja, terug by die smaak kwessie. Jacques Brel het ikoniese status in Frankryk en België bereik, en tot vandag toe is sy aanhang verbysterend. Soveel so dat die Brel vertoning waarvan ek deel is alreeds genooi is om in België te gaan optree, alle onkostes betaal. As mens egter na die musiek luister, is dit beslis nie “ligte liedjie luistermusiek” nie. Dis intense musiek, met uitdagende verwerkings en poëtiese lirieke.

Wat het gebeur in Afrikaanse musiek? Is dit die musikante, die gehoor, of die pers wat musieksmaak bepaal?

My opinie: ek dink dis ‘n kombinasie. Musieksmaak is in ‘n groot mate aangeleer is, maar tog spruit dit ook uit genetika. As ek in ‘n huis grootgeword het wat nie na klassieke musiek geluister het nie, sou dit sekerlik ‘n invloed gehad het op my musieksmaak. Ek glo ook dat ons isolasie in Suid Afrika op ‘n kulturele vlak baie meer skade gedoen het as wat ons dink. Sedert 1994 is ons heelwat meer blootgestel aan Nederlandse kunstenaars, soos Herman van Veen en Stef Bos, en die invloed van hulle musiekstyle het beslis ‘n invloed op Afrikaanse musiek (onbewustelik in my musiek ook). Net soos Frans as ‘n taal gesterf het in Suid Afrika, kan musiek style ook sterf, en dis waar die rol van die pers na my mening ongelooflik belangrik is. Ek glo die pers het nie net ‘n mandaat om te speel waarna mense luister nie, maar ook om mense bloot te stel aan nuwe en ander style, en dus ‘n dryfveer te wees vir musiekwaardering. Dis ‘n baie aanvegbare stelling, maar dis my mening dat die Afrikaanse pers nie ‘n leidende rol in die verband speel nie.

Aan die ander kant glo ek ook dat genetika ‘n groot rol speel. Ek het ‘n natuurlike aanklang aan Blues musiek, terwyl ek nooit daaraan blootgestel was as kind nie.

Ek sal graag julle opinies wil hoor. Hier is ‘n paar vrae wat ons kan ondersoek:

• Is musieksmaak geneties, aangeleer of ‘n mengsel?
• Speel Afrikaanse pers ‘n leidende rol in musieksmaak?

Laat my asb. weet deur e-pos wat julle opinies hieroor is.

Resultate Van Vorige Nuusbrief Kwessie

Die vorige nuusbrief se kwessie was: Het vroulike en manlike musikante gelyke kans om suksesvol te wees met musiek? Daar was min definitiewe antwoorde, so ek sal in plaas van ‘n grafiek met die resultate ‘n paar opinies insluit wat deur lesers uitgespreek is:

"Ek dink sexy vrouens het dit makliker, maar vir 'n korter tydperk."

"Ek reken dis makliker vir 'n man om 'n seksuele image voor te hou sonder om geloofwaardigheid te verloor as wat dit vir 'n vrou is."

"Miskien is dit vir mans 'n groter ego ding as wat hulle bereid is om te erken."

"Ek stem saam dat sexy vroumense, en mans, makliker sukses behaal, en wel om die volgende rede: Televisie. Ek dink die meeste jong mense luister nie regtig en waardeer meer goeie musiek nie."

"Ek dink een probleem wat ons het met spesifiek Afrikaanse mense (maar mense in SA ook) is die vlak van musiek kennis en waardering. Omdat musiek nie meer in die skole is nie, is ons kennis van musiek en die waardering daarvan ook by die toilet af."

Vertonings

Ek moet hierdie een ‘n bietjie bemark! Dis die vertoning wat so goed ontvang was by die Volksblad fees en wat reeds genooi is om in België te gaan toer. So kom kyk asseblief!

Wat
My man, Jacques Brel, in Klinkende Afrikaans
Wanneer 19 Oktober 2005
Waar Centurion Teater of Computiket
Kontak 012 664 7859

Tot ‘n volgende keer dan, en onthou om die nuusbrief te forward aan enigeen wat sal belangstel om dit te ontvang.

Herman

 

 

 
sel: 083 232 1377
epos: info@hermanvdb.co.za
hermanvandenberg.eu brelinafrikaans.eu
 
Kopiereg © 2000 - 2017 Herman van den Berg.
Alle regte voorbehou.
webwerf ontwikkel deur Dumel
grafiese ontwerp - Chenette Swart