Nuusbrief << Keer terug na Herman se nuusbriewe
 

Die "Plunge"

Dit was ‘n lang stilte van my kant af na ‘n belaglike besige jaar. Sedert ek laas geskryf het, het ek die agtergrond musiek vir die TV program “Die Binnelanders” geskryf en opgeneem, het ek ‘n nuwe Jacques Brel vertoning op die planke gebring, ‘n nuwe Brel CD opgeneem, ‘n reeks Brel vertonings in België opgevoer en laaste maar nie die minste nie, ‘n nuwe baba in die huis gekry, so amper 7 maande terug. So ek hoop julle het simpatie met die feit dat ek so lanklaas geskryf het.

Die een goeie ding wat hierdie druk teweeg bring is dat dit ‘n hele paar kwessies tot ‘n punt bring, en vir my is die uiteinde dat ek besluit het om my passie na te volg en van volgende jaar af voltyds (of minder deeltyds) musiek te maak. Dit is maar ‘n benoude besluit, maar dit moes een of ander tyd kom. Julle sal sekerlik meer van my in die volgende jaar hoor (insluitende ‘n nuwe CD met my eie musiek).

Soos ek genoem het is ‘n nuwe Afrikaanse Jacques Brel CD op pad. Dit is reeds opgeneem en moet nou net gedruk word. Vir diegene wat nie weet wie Jacques Brel was nie: hy is onlangs aangewys as die grootste Belgiese musikant in die geskiedenis en dis verbasend hoeveel van sy musiek mens eintlik ken sonder dat jy weet dit is deur hom geskryf. Van sy liedjies wat beroemdheid verwerf het soos “Le Moribond” (wat vertaal is in Engels as Seasons in the Sun), “Quand On N'a Que L'amour”, “La Chanson des Vieux Amants” (deur Herman van Veen vertaal as Ek hou van jou) is deur prof. Naome Morgan en prof. Bernard Odendaal van Bloemfontein Universiteit vertaal in Afrikaans. Ek is gevra om dit op te voer (saam met Matthys Maree op klavier), en ek moet se dit was vir my ‘n openbaring om met Brel se musiek te werk. Hy was voorwaar ‘n meester liedjieskrywer, wat alle aspekte aan betref (insluitend opvoering daarvan). Wat my veral tref van sy musiek is die passie en intensheid wat hy weergee daarmee, en ek hoop ons het ‘n skryntjie daarvan vasgevang vir Suid Afrikaners. Bestellings kan geplaas word vir die CD by my en ek sal dit laat aflewer.

Vertonings

My man, Jacques Brel

Wanneer: 24 November
Waar: Red Door theater, Henley on Klip
Kontak: Johan Coetzee: thereddoor@mweb.co.za

Wanneer: 25 November
Waar: Infinity theater, Pretoria
Kontak: Lise: 012-997 9060

Tot ‘n volgende keer dan, en onthou om die nuusbrief te forward aan enigeen wat sal belangstel om dit te ontvang.

Herman

 

 

 
sel: 083 232 1377
epos: info@hermanvdb.co.za
hermanvandenberg.eu brelinafrikaans.eu
 
Kopiereg © 2000 - 2017 Herman van den Berg.
Alle regte voorbehou.
webwerf ontwikkel deur Dumel
grafiese ontwerp - Chenette Swart