Nuusbrief << Keer terug na Herman se nuusbriewe
 

Vryheid?

Nou ja, hier is ek nou in my sogenaamde "vryheid". Ek het amptelik opgehou werk en volg nou my passie om musiek voltyds te maak (doen nog hier en daar kontrakwerk vir die geld). Julle sal seker heelwat meer van my hoor in hierdie jaar en ek beplan heelwat musiek.

In die eerste plek het een van die projekte reeds die lig gesien, en dit is die Brel in Afrikaans CD. Vir die wat nuwe inskrywers is en nie die geskiedenis ken nie: vir die eerste keer in Afrikaans is ‘n hele CD met Jacques Brel vertalings gemaak (vertalings deur prof. Naome Morgan en prof. Bernard Odendaal). Vir die wat nie Jacques Brel ken nie: hy word bestempel as een van die beste liedjieskrywers wat nog ooit geleef het. Hy is ‘n Belg wat in Frans gesing het, maar het wêreldwye roem behaal – soveel so dat hy onlangs aangewys is as die grootste Belg van alle tye. Vir meer inligting oor die CD, besoek gerus http://www.hermanvdb.co.za/.

Verder beplan ek om nog twee CD’s die lig te laat sien vanjaar, maar ek sal die details vir ‘n volgende keer hou. Later in die jaar vind daar ook ‘n toer plaas na Europa met die Brel in Afrikaans vertoning.

My webwerf is onlangs opgedateer om CD bestellings deur die internet toe te laat. Gaan besoek gerus:
http://www.hermanvdb.co.za/musiek/

Onlangs was dit weer die South African Music Awards, en Afrikaans musiek het hoog gepreik met nuwe afdelings vir Afrikaanse musiek. By die SAMA toekennings in 2004 het die aanbieder aangekondig dat Steve Hofmeyr die beste verkoper was. Die gehoor het uitgebars van die lag en gedink dis ‘n grap. Maar die aanbieder was ernstig. (Steve was blykbaar nie eers genooi na die geleentheid toe nie). Intussen het Afrikaanse musiek ‘n reuse aanhang gekry en word dit nou alom so aanvaar, soveel so dat Select Musiek, wat in Afrikaanse musiek spesialiseer, nou die tweede grootste CD verspreider in die land is (eerste is EMI, wat ook ‘n groot kontingent Afrikaanse musiek versprei).

Maar wat veroorsaak dit? Dis vir my effens duister, maar ek vermoed dit is moontlik die Afrikaanssprekendes wat reik na ‘n identiteit nadat die val van apartheid ons gestroop het van die beskerming wat Afrikaans gehad het. En die identiteit is besig om al breër uit te brei. Afrikaanse musiek strek nou van tradisionele musiek, soos boeremusiek tot alternatief, wat na my mening ‘n goeie ding is. Ek moet erken dat daar vir my smaak nog min op die rakke is wat ek dadelik sal uitstorm om te gaan koop, maar miskien het ek net lanklaas gaan luister. Die keuse is ten minste baie wyer as in die verlede. Ek wonder wat in die volgende paar jare gaan gebeur met Afrikaans. Dit lyk my dit word net sterker!

Vertonings

My man, Jacques Brel
Wanneer: 20 April
Waar: Infinity theater, Pretoria
Kontak: Lise: 012-997 9060

Wanneer: 26 April
Waar: Red Door theater, Henley on Klip
Kontak: Johan Coetzee: thereddoor@mweb.co.za

Tot ‘n volgende keer dan, en onthou om die nuusbrief aan te stuur aan enigeen wat sal belangstel om dit te ontvang.

Herman

 

 

 
sel: 083 232 1377
epos: info@hermanvdb.co.za
hermanvandenberg.eu brelinafrikaans.eu
 
Kopiereg © 2000 - 2017 Herman van den Berg.
Alle regte voorbehou.
webwerf ontwikkel deur Dumel
grafiese ontwerp - Chenette Swart