Nuusbrief << Keer terug na Herman se nuusbriewe
 

Die Toekoms Van Radio

Onlangs na ‘n onderhoud op RSG, het ek en Johan Botha (van Botha Blues, Tempo en Opera faam) begin gesels oor die toekoms van radio. Die gesprek het ontstaan uit my verbasing dat die Brel in Afrikaans CD op twee radiostasies in Nederland gespeel word maar dit blykbaar te gesofistikeerd is vir die Suid Afrikaanse mark volgens RSG. Ek moet erken dat ek nie verbaas is daaroor nie as mens na die Afrikaanse musiek luister wat gespeel word op RSG.

Die probleem is egter: wie anders is daar? Alhoewel Afrikaanse musiek nou amptelik die grootste verkoper is in Suid Afrika, is daar net ‘n handjie vol radio stasies wat Afrikaanse musiek speel. Blykbaar word die tipe musiek wat ‘n radio speel ook bepaal deur die lisensie wat uitgereik word aan die stasie. Highveld Stereo word byvoorbeeld beperk tot Engelse musiek volgens sy lisensie. Dit beteken dat die uitreiking van lisensies heel waarskynlik nie tred gehou het met die mark in Suid Afrika nie. My “kleintjie dood” is al vir jare dat daar nie ‘n alternatiewe Afrikaanse radiostasie is wat vir luisteraars soos ek voorsiening maak nie. Bitter min van my Afrikaanse vriende luister na RSG wat ‘n aanduiding is dat daar iets skort.

Maar daar is lig aan die einde van die tonnel. Radio soos ons dit ken is waarskynlik in sy doodsnikke. Soos die internet ‘n invloed het op byna alle aspekte van die lewe, gaan dit in die toekoms die gesig (of oor) van radio verander. Daar is al heelwat radiostasies wat ge”stream” word deur die internet alleenlik, maar dit het nou ‘n stappie verder gevorder. Internet radiostasies soos Last.fm se benadering is om te speel wat die luisteraar wil hoor.Dit werk so:

Die program vra wie jou gunsteling kunstenaars is. Die speellys word dan deur die program vir jou bepaal uit hierdie gunsteling kunstenaars, maar jou profiel word dan vergelyk met ander mense wat soortgelyke smaak het. Die program begin dan snitte in te gooi wat jy nie op jou speellys het nie, maar wat ander met soortgelyke smaak wel op hulle s’n het. Jy kry die geleentheid om ‘n gradering vir die snit te gee, en sodoende wod jou profiel al meer verfyn en kry die program ‘n al beter idee van jou smaak. So ontdek jy heelwat nuwe musiek.

Die enigste probleem op hierdie stadium is dat min Suid Afrikaners ‘n konneksie het wat vinnig genoeg is, maar ek sien in die afsienbare toekoms dat jy toegang tot hierdie tipe diens deur jou selfoon sal kan kry. Daarmee dan die dood van radio?

Vertonings

Herman van den Berg
‘n Musiekprogram met ‘n mengsel van my eie musiek en die Jacques Brel
vertalings.

Wanneer: 18 Augustus
Waar: Pietermaritzburg
Kontak: Christie: 083 3030 296

Wanneer: 26 Augustus
Waar: Paputzi’s
Linden - Johannesburg
Kontak: 011 782 9393

My man, Jacques Brel
‘n Kabaret met die wonderlike Afrikaanse vertalings van Brel se musiek.

Wanneer: 12,13 Oktober
Waar: Bloemfontein en Kimberley
Kontak: Myself, voorlopig: 083 232 1377

Rondom ‘n Woordvuur
Wanneer: 13 Oktober
Waar: Bloemfontein
Kontak: Myself, voorlopig: 083 232 1377

Rondom 'n Woordvuur

Ek en Bernard Odendaal, professor in Afrikaans/Nederlands aan die Universiteit van die Vrystaat, het ‘n nuwe program saamgestel wat by die Volksbladfees in Bloemfontein afgeskop het.

Dit is ‘n program wat fokus op die sinergisme wat ontstaan as mens musiek aan ‘n gedig of liriek koppel, en sodoende dit meer emotiewe waarde gee. Vrek, maar dit klink hoogdrawend! Eintlik is dit bloot ‘n program met goeie en vermaaklike musiek wat ook toeligting oor poësie bevat. Dit sal ideaal sal wees vir poësie aande, of leserskring byeenkomste. Vir enigiemand wat sou belangstel in die program, laat my asb. weet.

Tot ‘n volgende keer dan, en onthou om die nuusbrief aan te stuur aan enigeen wat sal belangstel om dit te ontvang.

Herman

 

 

 
sel: 083 232 1377
epos: info@hermanvdb.co.za
hermanvandenberg.eu brelinafrikaans.eu
 
Kopiereg © 2000 - 2017 Herman van den Berg.
Alle regte voorbehou.
webwerf ontwikkel deur Dumel
grafiese ontwerp - Chenette Swart