Nuusbrief << Keer terug na Herman se nuusbriewe
 

2007 was ‘n jaar van groot veranderinge in my lewe. Ek het uiteindelik die groot sprong geneem en bedank by die werk om meer voltyds in musiek in te beweeg.
As ek terugkyk was dit egter ‘n baie goeie jaar. Die hoogtepunte was die Brel in Afrikaans CD wat die lig gesien het, die optredes in die Benelux lande en die feit dat ek ernstig weer begin skryf het aan materiaal vir die volgende CD.

Benelux

Tydens die optredes in België en Nederland het ek ‘n hele paar gewaarwordinge gehad. Die Brel in Afrikaans CD is laat verlede jaar uitgereik in die Benelux lande, met dié dat ek, Naomi Morgan (vertalings en voordrag) en Matthys Maree (klavier) oorgegaan het om ‘n paar vertonings te gaan hou en media blootstelling te gee aan die CD uitreiking.

My eerste gewaarwording was dat daar ‘n baie groter teater kultuur in Europa is. Die vertonings het, vir ‘n onbekende kunstenaar, goeie bywoning beleef, en dit ten spyte van die feit dat vertonings meesal op weeksaande geskied het, wat in Suid Afrika gewoonlik nie sommer sou deug nie. Die teaters is meesal uiters professioneel. As mens vra vir ‘n klavier, kry jy ‘n vleuel klavier, en as mens instap by die teater is alles reeds daar; daar is nie ‘n kwessie van ‘n teater wat nie genoeg klank- of beligtingsapparaat het nie. Gewoonlik is daar ook ‘n span wat reeds wag om die opstelling te behartig.

In Suid Afrika word meeste produksies deesdae by die kunstefeeste aangebied wat ‘n groot kontras bied met die teaters van Europa. Dit voel soms vir my of die feeste tegelyk die redding en ondergang van die kunste kan beteken – nie van alle kunsvorms nie, maar wel van sekeres. Ons het byvoorbeeld ‘n vertoning van Johan Verminne bygewoon in Nederland en die beligtingsontwerp veral was uitstekend. Uit my ondervinding weet ek dat die vertoning, soos dit aangebied was daar, nie in dieselfde vorm sou moontlik gewees het by ‘n fees nie. Dit voel vir my of ‘n professionele aanbieding altyd effens skade lei by ‘n fees a.g.v. beperkte opstel tyd, atmosfeer van venues en beperkinge met klank en beligting, met die gevolg dat die gehoor dink dit is maar hoe die vertoning is. Ek glo dit is tyd dat ons weer ‘n teater kultuur in die land begin skep, in parallel met die feeste – soortgelyk aan die “kleinkunst” beweging wat tans in die Benelux bestaan. Sodoende kan kwalitiet, meer as kwantiteit, weer ‘n belangriker rol begin speel. Die onus om dit te laat werk val op beide die kultuur ondersteuners en teaters, maar meer op die ondersteuners na my mening. Hiermee dus my uidaging aan alle Suid Afrikaanse ondersteuners: probeer om ten minste een vertoning die jaar in ‘n teater by te woon.

Opneem van CD

In April kom ‘n gros musikante in my huis bymekaar om deur die musiek vir my nuwe CD te werk, en ons gaan ook probeer om die opnames by die huis te maak (soos wat Sting en Bruce Springsteen onlangs ook gemaak het). Ek hoop dat dit die geleentheid sal skep vir musikante om meer in die musiek in te sink en sodoende meer persoonlikheid aan die musiek kan verleen. Ek is baie opgewonde oor die konsep vir die nuwe CD, maar ek gaan myself nie nou vooruitloop nie - ek sal julle op 'n later stadium meer daarvan vertel.

Vertonings

Rondom 'n Woordvuur
Dit is ‘n vertoning wat fokus op die sinergie wat ontstaan as mens musiek aan ‘n gedig of liriek koppel. Prof. Bernard Odendaal is verantwoordlik vir die toeligting. Kom kyk gerus! Daar is ‘n paar wonderlike toonsettings in die program.

Wanneer: 29 Februarie
Waar: Die Agterplaas – Mellville, Johannesburg
Kontak: (011) 726 8452

Wanneer: 8 Maart
Waar: Woordfees - Stellenbosch
Kontak: Computiket

Tot ‘n volgende keer dan, en onthou om die nuusbrief aan te stuur aan enigeen wat sal belangstel om dit te ontvang.

 

 

sel: 083 232 1377
epos: info@hermanvdb.co.za
hermanvandenberg.eu brelinafrikaans.eu
 
Kopiereg © 2000 - 2017 Herman van den Berg.
Alle regte voorbehou.
webwerf ontwikkel deur Dumel
grafiese ontwerp - Chenette Swart