Nuusbrief << Keer terug na Herman se nuusbriewe
 

Wat ‘n paar maande! Soos ek laas genoem het, is ek nou in die midde van die produksie van my nuwe CD.

In April het die mal musikante in my huis gekonglomereer om die opnames te kom maak. Dit was absolute chaos. Daar was 12 kitare in 2 kamers, die hele sitkamer was vol van dromme en mikrofone, om elke hoek was daar ‘n musikant, daar was matte op teen die mure en die vloer was toegeslang van drade. Maar dit was een van die wonderlikste ervarings van my lewe.

Die benadering om by die huis op te neem is nie nuut nie. Sting en Bruce Springsteen is onder andere van die kunstenaars wat dit onlangs só gedoen het. ‘n Groot struikelblok vir goeie opnames is dikwels die feit dat die musikante te veel speel omdat die geheelprentjie nie gehoor word nie, of dat die opnames te klinies word omdat die interaksie tussen musikante nie daar is nie. Ek het gehoop dat dit die musikante die geleentheid sal gee om die musiek beter te leer ken en om ‘n gevoel van eenheid te kry, en ek glo dit is presies wat gebeur het. Hier is ‘n paar fotos om die skade te wys:

Na ‘n paar tegniese struikelblokke uit die weg geruim is, het ons in erns begin en dit reggekry om die musiek in drie dae op te neem. Dit was egter net ‘n basis om vanaf te begin: Daarna het nog individuele opnames van verskeie instrumente gevolg en die “editing” van al die opnames het begin. Viole en koperblasers moet nog opgeneem word in die volgende twee weke, en dan kan die finale stemopnames, “mixing” en “mastering” gebeur. Ek moet erken, ek het die omvang van die hele projek onderskat. Die opnames van die musikante is maar ‘n klein deel van die totale omvang. Ek sit nou al twee maande lank (deeltyds tot laat in die nag) in die studio agter die rekenaar.

Wat kan julle te wagte wees?

Die musiek van die nuwe CD het ‘n baie definitiewe identiteit – iets waarna ek beslis gestreef het in die hele proses. Oor die algemeen is dit meer ernstig as die vorige CD’s en daar is heelwat meer verskuilde betekenisse en boodskappe wat ek probeer inwerk het. Ek het met hierdie CD probeer om ‘n deurlopende motief te gebruik wat die eliminasieproses nogal interessant gemaak het. Ek het begin met 24 songs, waarvan daar waarskynlik 12 op die CD sal wees. Die eliminasie van songs was nie slegs op grond van kwaliteit, soos in die verlede nie – dit was ook afhanklik van of dit by die sentrale tema of motief pas. Verder het ek hierdie keer self al die opnames en verwerkings behartig wat ‘n reuse uitdaging was, maar hopelik ook sal help om ‘n definitiewe klank daar te stel. Die proses van lirieke skryf het ek ook anders benader. Ek het saam met Prof. Bernard Odendaal (Universiteit van Vrystaat) gewerk om van die lirieke te skryf, of om die lirieke wat ek reeds geskryf het te skaaf, wat natuurlik ‘n baie interessante en leersame proses was.

Die CD sal waarskynlik in September die lig sien, maar julle sal lank voor dit al weer van my hoor!

Vertonings - Brel

Wanneer: 11 Julie
Waar: Bloemfontein

Kontak: Sam de Klerk

Tot ‘n volgende keer dan, en onthou om die nuusbrief aan te stuur aan enigeen wat sal belangstel om dit te ontvang.

 

 

sel: 083 232 1377
epos: info@hermanvdb.co.za
hermanvandenberg.eu brelinafrikaans.eu
 
Kopiereg © 2000 - 2017 Herman van den Berg.
Alle regte voorbehou.
webwerf ontwikkel deur Dumel
grafiese ontwerp - Chenette Swart