Nuusbrief << Keer terug na Herman se nuusbriewe
 

Met die vrystellingskonserte nou agter die rug is ek weer stadig besig om my asem terug te kry. Eerstens wil ek vir almal wat die konserte bygewoon het bedank. Dit was vir my voorwaar ‘n hoogtepump in my loopbaan om weer saam met die wonderlike musikante te speel en die entosiastiese respons van almal te kry.

'N Vinnige Opsomming Van Die Vrystellingskonserte:

Nederland:
Die ontvangs was oorweldigend. Dit was vir my ‘n uitdaging om meesal op myself aangewese te wees vir begeleiding waar ek gewoond is om ander musikante saam met my te hê. Gelukkig het Gea Wybenga (Suid Afrikaner in Nederland) bygestaan met die klavier wat ekstra kleur verleen het. Ten spyte daarvan dat ek so blootgelê gevoel het, het die konsert tog baie goed verloop. Die bywoning was omtrent 50/50 Nederlanders en Suid Afrikaners.

Die belangstelling van die Nederlandse media was veral verrassend. Ek het die voorreg gehad om lewendig op Radio 1 op te tree en die CD was die album van die week op Radio Domino.

London:
Die belangstelling in London was maar skraps, so die konsert het verskuif na ‘n huiskonsert, wat eintlik ‘n verligting was en op die ou ent heerlik intiem was (dankie Trusia). Ek het ook ‘n radio onderhoud in London kon hou, wat dit nog meer die moeite werd gemaak het.

Johannesburg:
Heelwat van die pers het hierdie geleentheid bygewoon in die indrukwekkende “Turbine Hall” van Anglo Ashanti hoofkantore in die stad. Die venue het gesorg vir heelwat uitdagings wat die klank aan betref, maar die “vibe” was goed en die terugvoer verrassend positief. Te danke aan Amanda Olivier het ‘n radio onderhoud op RSG alreeds voortgespruit uit hierdie geleentheid.

Pretoria:
Pretoria was ‘n “blast”. Hoogtepunte was “Rondloper” en “Polla” (wat veral spesiaal was aangesien Polla self daar was en nog nie die song gehoor het nie). Dankie aan al die pêlle wat dit bygewoon het en dit sodoende nog meer spesiaal gemaak het.

Bloemfontein:
Die konsert in Bloemfontein is daar gehou omdat Bernard Odendaal (wat gehelp het met lirieke vir die album) daar woon. Hierdie konsert was veral uitsonderlik omdat ons lewendige stykers kon inspan om te help. “Vreemde Wese” en “Die Boom” was hemels vir my.

Volgende op die agenda is ‘n musiekvideo en verdere reklame. Dit is nou hier waar ek julle hulp nodig het: Ek sal graag wil hoor by dié wat al die CD beluister het, watter songs ons op moet fokus vir videos en radio reklame. Laat weet met ander woorde wat julle gunstelinge is.

Bestellings van die nuwe CD (sowel as die voriges) kan nou op my webwerf geplaas word:
http://www.hermanvdb.co.za/musiek/. Bestellings wat voor einde Desember geplaas word, kry die bonus van getekende CD’s!

Laastens wil ek om verskoning vra vir die lêer-grootte van die vorige nuusbrief. Ek sal voortaan kleiner weergawes stuur.

Tot ‘n volgende keer dan, en onthou om die nuusbrief aan te stuur aan enigeen wat sal belangstel om dit te ontvang.

Herman

 

 

sel: 083 232 1377
epos: info@hermanvdb.co.za
hermanvandenberg.eu brelinafrikaans.eu
 
Kopiereg © 2000 - 2017 Herman van den Berg.
Alle regte voorbehou.
webwerf ontwikkel deur Dumel
grafiese ontwerp - Chenette Swart