Nuusbrief << Keer terug na Herman se nuusbriewe
 

Is dit gemors?

Ek het onlangs ’n CD in die hande gekry met die “trots” van Afrikaanse musiek op. En was geskok. Ja, ek weet ek is miskien nie die deursnee Afrikaanse musiekluisteraar nie, maar ek is seker dat daar baie Afrikaanse mense is wat, soos ek, skaam voel oor baie van die Afrikaanse musiek wat tans gepleeg word.

Maar wat is goeie musiek? “Kwaliteit” het so ’n omstrede term geword. Die meeste Afrikaanse musikante (of sal ek sê sangers) glo gewoon dat hulle musiek van hoë gehalte is. Ek dink dis tyd dat ons dit in kwantitatiewe terme begin meet. Nadat ek lank gewonder het oor hoe mens dit kan doen, kon ek ’n paar maatstawwe identifiseer wat ’n mens moontlik kan gebruik. Ek het een van die maatstawwe getoets aan die hand van die genoemde “trots” Afrikaanse CD.

Die hoeveelheid benutte akkoorde per snit op die CD is vasgestel en die gemiddeld bepaal. Toe het ek dit vergelyk met CD’s van seker die twee mees immergroene en suksesvolle groepe in die geskiedenis van ligte musiek: The Beatles en ABBA. (Na my mening is een van die beste maatstawwe van kwaliteitmusiek juis die langlewendheid daarvan.) Die proses was eenvoudig – dog pynlik vir my! Hier is die resultate, grafies voorgestel:

Die hoeveelheid akkoorde is maar net een maatstaf. Ander maatstawwe wat ’n mens kan gebruik is die verskeidenheid akkoordprogressies, die mate van herhaling in lirieke, die hoeveelheid geykte uitdrukkings wat gebruik word, die instrumentasie, die verwerkings, die hoeveelheid modulasies, ens. Ek het nie die moed gehad om weer deur alles te luister nie, maar ek is seker ’n mens sal soortgelyke resultate kry as ’n mens die ander maatstawwe toets.

Ek is gelukkig nie alleen nie. Ek het onlangs op ’n groep op Facebook afgekom met die naam: “Elke keer as ek vir Nicholis Louw hoor sing, wil ek in my mond kots!”. Wat ironies is, is dat die groep meer ondersteuners het as Nicholis Louw se eie groep op Facebook (6252 teenoor 447 toe ek vandag gekyk het). Daar is duidelik ‘n groeiende gevoel van moedeloosheid, selfs irritasie, met die algemene Afrikaanse musiek.

Dit laat ’n mens dadelik wonder of die vervlakkingstendens slegs ’n Afrikaanse verskynsel is, en of dit ’n Zeitgeist oor die wêreld heen verteenwoordig. My gevoel is dat daar wel ’n wêreldwye vervlakking is in musiek (ook in ander kunsvorme), maar dat dit nie oral so prominent is as in Afrikaanse musiek nie. As ek na van die Engelse radiostasies luister, is die Suid Afrikaanse musiek tog luisterbaar vir my, alhoewel ek nie noodwendig van alles hou nie. Afrikaanse radiostasies word vir my op hierdie oomblik gekenmerk deur musiek wat my dadelik van sendfrekwensie laat verander.

Maar hoekom is dit so? Hoekom het Afrikaanse musiek dikwels so onuitstaanbaar swak geword? Dit is die belangrike en eintlike vraag wat ’n mens behoort te vra, en waarop ek nie ’n antwoord het nie. Is dit omdat die marginalisering van Afrikaans ons na enigiets wat volkseie is laat gryp, ongeag die gehalte? Het die pers ’n aandeel hierin? Speel tegnologie ’n rol? (Enige iemand kan met moderne opnametegnologie ’n album maak wat “reggetoor” is.) Wat is die rol van platemaatskappye?

En die toekoms van Afrikaanse musiek? Die ondersteuning van Afrikaanse musiek is verblydend en ek hoop dat hierdie ondersteuning ook die (teater- en ander) deure sal oopmaak vir nuwe kwaliteitmusiek. Al wat ek weet is dat ek smag na goeie musiek en ek glo ’n mens kan dit in Afrikaans maak!

Konserte

Beskrywing: Intieme aandkonsert by Jannie du Toit se gastehuis. Beperkte aantal sitplekke, bespreek dus so gou as moontlik.
Wanneer: 20 Maart
Venue: Agterplaas, 66 6de Laan, Melville, Johannesburg
Besprekings: Hanna Marais, 082 782 2532

Beskrywing: Brel in Afrikaans: ‘n konsert met Afrikaanse vertalings van Jacques Brel se chansons (wat tot dusver veral goed in België en Nederland ontvang is. Dit is ‘n middagkonsert met ete.
Wanneer: 22 Maart
Venue: Centurion-teater, Pretoria
Besprekings: 012 664 7859

Beskrywing: Ek en die band gaan gooi! Verwag baie musiek van die nuwe CD af.
Wanneer: 29 April
Venue: Centurion-teater, Pretoria
Besprekings: 012 664 7859

Nuus

Hou Kwêla op Kyknet dop vir ’n program oor my musiek, iewers in die volgende paar weke. Daar gaan ook resensies oor Dit is wat dit is verskyn in die nuwe De Kat, Plus en Rapport Leef. Wees dus ook daarvoor op die uitkyk.

Dit is wat dit is (my nuwe album) behoort al in CD-winkels beskikbaar te wees. As dit nie is nie, kan dit bestel word by die verspreiders, Select Music Distribution. of bestellings kan sommer direk op my webwerf geplaas: http://www.hermanvdb.co.za/musiek/.

Laat my asseblief weet as die winkels nie voorraad het nie, dan kan ek die oorsig opvolg.

Tot ’n volgende keer dan – en onthou om die nuusbrief aan te stuur aan enigeen wat sal belangstel om dit te ontvang.

Herman

 

 

sel: 083 232 1377
epos: info@hermanvdb.co.za
hermanvandenberg.eu brelinafrikaans.eu
 
Kopiereg © 2000 - 2017 Herman van den Berg.
Alle regte voorbehou.
webwerf ontwikkel deur Dumel
grafiese ontwerp - Chenette Swart