Nuusbrief << Keer terug na Herman se nuusbriewe
 

Maak tegnologie musiek dood?

July 8, 2009 by Herman van den Berg Min mense besef watter verbysterende tegnologie deesdae gebruik word in ateljees tydens die opname en verwerking van musiek. Tydens die produksie van ‘n paar CD’s waarby ek betrokke was, het dit my telkens laat wonder oor my eie filosofie rakende musiek. Doen dit afbreuk aan die outentiekheid van musiekproduksies? Mens kan maklik die parallel trek met die manipulasie van foto’s wat deesdae so gereeld geskied deur middel van programme soos Photoshop.

Hier is ‘n paar voorbeelde van tegnieke wat dikwels gebruik word:

“Autotuning”
Autotuning-programme word internasionaal gebruik in naastenby 80% van die popmusiekalbums wat tans geproduseer word. In ‘n neutedop gestel: Die program kan enige mens (of instrument) op die noot bring. Die nuwe weergawes van die programme kan selfs die verskillende note in ‘n akkoord identifiseer en dit dan autotune. As mens dit oormatig aanwend, skep dit ‘n effek wat soms die “Cher-effek” genoem word, aangesien die sangeres Cher dit die eerste keer só aangewend het. Vir ‘n demonstrasie van hoe dit aangewend word, gaan kyk gerus op: http://www.youtube.com/watch?v=9xX6OwNk8sk

“Quantising”
Quantising doen vir ritme wat Autotuning vir toonhoogte doen. As ‘n instrument nie op die verlangde maatslag gespeel is nie, kan dit outomaties reggetoor word. Dit kan vermag word sonder om te veel van die klankkwaliteit in te boet. Hierdie tegnieke kan deesdae vir beide elektronies en akoesties opgeneemde klanke aangewend word.

“Sampling”
Daar bestaan deesdae ‘n reuseverskeidenheid vooraf opgeneemde klanke wat gebruik kan word tydens opnames. So is daar onder andere ‘n biblioteek van orkesklanke – deur die Weense Simfonie-orkes gespeel – beskikbaar wat ’n mens elektronies kan aktiveer en beheer in ‘n ateljee. Veral perkussie-instrumente word deesdae selde lewendig opgeneem, vanweë die hoeveelheid samples wat bestaan.

“Convolution reverb”
Reverb is die afkorting vir reverberation, wat sagteware (of hardeware) is wat mens die vermoë gee om akoestiek te skep nadat die stem of instrument reeds opgeneem is. Convolution reverb is die nuutste tegnologie waarmee mens enige bestaande spasie kan modelleer. As jy wil weet hoe jou stem sal klink in Sydney se operahuis, neem jy jouself eenvoudig op en gebruik Convolution reverb om die akoestiese eienskappe van die operahuis toe te pas.

Hierdie is maar ‘n paar voorbeelde waaraan ek dadelik kan dink. Daar is natuurlik nog baie meer tegnieke en programme wat gebruik word in studios, deesdae selfs op die verhoog. Daar is onlangs ‘n opname via internet versprei van hoe Britney Spears eintlik klink tydens ‘n lewendige optrede – skrikwekkend!

Dit laat ’n mens natuurlik wonder hoeveel ware talent skuil onder die vernislaag van ‘n ateljee-opname. Ek is bevrees dat die beeld van die “kunstenaars” deesdae al hoe belangriker word, en die musikaliteit al hoe minder belangrik. As Mick Jagger of van die ander minder aantreklike musikante van jare gelede vandag eers op die toneel sou verskyn, twyfel ek of hulle dieselfde aanhang sou geniet. Myns insiens het dit toé nog oor waaragtige talent gegaan. Die musikante moes bloot uitstekend gewees het om ‘n liedjie op een slag op te neem. (Deesdae word elke instrument meestal onafhanklik opgeneem).

Daar is egter hoop. Ek het onlangs op www.gearslutz.com, ‘n forum vir klankingenieurs op die internet, gelees dat die huidige gunstelingkunstenaars, volgens baie van die wêreld se voorste klankingenieurs, juis die eenvoudige, amper “lo-fi”-musiekmakers is. Dis mense soos Tom McRae, Damien Rice, Death Cab for Cutie, Ray LaMontagne en Fleet Foxes wat deesdae opslae maak.

My filosofie is dat tegnologie gebruik behoort te word om natuurlike talent te versterk. Op die ou end is dit die skép van die musiek, eerder as die opname en verwerking daarvan, wat die grootste invloed het op die sukses daarmee. Hiermee kan ‘n rekenaar nog nie help nie. (Alhoewel… Ek sal dit ‘n volgende keer bespreek!).

Al dra ‘n aap ‘n goue ring...

Blog

Ek gaan in die vervolg my nuusbriewe ook publiseer in ‘n blog. As jy dus repliek wil lewer, gaan doen dit gerus by: http://hermanvdb.wordpress.com. Sommige van my vorige nuusbriefonderwerpe staan ook daar gepubliseer.

Reaksie op “Is dit gemors?”

Ek het besonder baie reaksie gekry op my vorige nuusbrief. Vir die wat die vorige nuusbrief gemis het, besoek gerus http://hermanvdb.wordpress.com/2009/06/22/is-dit-gemors/.

Hiermee ‘n paar uittreksels:

  • “… so moet ons almal veg teen die kanker van vervlakking wat nou innie Afrikanerdom posvat…”
  • “Ongelukkig is dit nie net ‘n musikale dilemma nie, maar in die algemene kuste ook”
  • “Jy slaat die spyker m.i. op die kop met jou bewering dat Afrikaanse musiek onuitstaanbaar swak is…”
  • Ek stem saam, maar ek is nie by magte om 'n oordeel te gee wat die musiek in Suid Afrika betref nie. Maar wat jy sê, sou baie goed kan geld vir die situasie in Nederland. Heeltemal dieselfde! Ek is seker dat die oorsaak die geldgewin is wat in die sakke van die musiekindustrie verdwyn.” (uit Nederland)
  • “Die versluierde boodskap in jou opinie is dat musiek (en dan waarskynlik alle ander menslike onderneming) volgens meriete na waarde geskat moet word. My ontwikkelende posisie (na ‘n stukkie lewe gelewe) is dat die sug na meriete in werklikheid‘n magshefboom van sommige (ek val veral in hierdie kategorie) se ego is.”

Boonop het Prof. Bernard Odendaal die onderwerp ook aangeraak in sy blog oor lirieke en gedigte. Gaan kyk gerus op http://versindaba.co.za/2009/05/11/oorgedigte- en-lirieke-bernard-odendaal. Andries (Roof) Bezuidenhout reageer ook as volg in die blog:

“Oor die toets van die aantal akkoorde wat jy noem: Dit neem nie in ag dat baie van die beste lirieke uit punk en die beweging terug folk en country toe (rootsmusiek) kom nie. Hierdie is juis ‘n reaksie teen prog-rock se geveinsde sofistikasie, terug na musiek as iets wat vir die werkersklas en gemarginaliseerdes gemaak word.”

Nuus

‘n Versameling van my drie oorspronklike albums is nou beskikbaar teen ‘n afslagprys op: http://www.hermanvdb.co.za/musiek/.

Resensies

Hier is ‘n paar uittreksels uit resensies van Dit is wat dit is . Vir die volle artikels, besoek: http://www.hermanvdb.co.za/media/media.htm

  • "Die eerste Afrikaanse uitreiking sedert Chris Chameleon se Ek herhaal jou, wat my regop laat sit het en elke haar op my lyf ook. Musikaal is dit ‘n tour de force en tegnies uitstekend…. Groots" – DeKat
  • "‘n Meesleurende meesterstuk... met pragtige, onvergeetlike musiek" – Huisgenoot
  • "...‘n versamelstuk, en ‘n briljante album wat ‘is wat dit is' " – GetIt
  • "Hy word beskou as een van die heel beste liedjieskrywers in die land en sy jongste album versterk dit net... Dit is musiek vir die siel" – Rapport Tydskrif
  • "As jy vanjaar net een CD gaan koop, oorweeg dié een sterk. Die produksie is uitstekend. Dis regte musiek." – Sarie
  • "meesleurende melodieë, kragtige kitaarballades en intelligente, treffende lirieke." – Rapport
  • "In elke liedjie is dit duidelik dat dit gaan oor afronding. Dit is veral die instrumente wat aan elkeen sy eie ryk, vervullende geur gee." – Beeld Plus
  • "asemrowend mooi, lui roerende note… 'n perfekte instrumentele uitvoering, wat die internasionale bekendheid en ervaring van die kunstenaar duidelik maak" – Vetseun

Konserte

Ons sit op hete kole en wag vir ‘n nuwe baba om te arriveer, so die volgende ruk is geen vertonings geskeduleer nie. Ek sal middel-Augustus weer begin optree, en onder andere te siene wees by die Woordpoort- en Aardklop-feeste in September.

Tot ’n volgende keer dan – en onthou om die nuusbrief aan te stuur aan enigeen wat sal belangstel om dit te ontvang.

Herman

 

 

sel: 083 232 1377
epos: info@hermanvdb.co.za
hermanvandenberg.eu brelinafrikaans.eu
 
Kopiereg © 2000 - 2017 Herman van den Berg.
Alle regte voorbehou.
webwerf ontwikkel deur Dumel
grafiese ontwerp - Chenette Swart