Nuusbrief << Keer terug na Herman se nuusbriewe
 

Die stand van Afrikaanse musiek

Daar is al heelwat geskryf en geredekawel oor Afrikaanse musiek die afgelope tyd. Maar wat is die stand van die musiekbedryf in syfers? Ek het ‘n bietjie probeer navorsing doen en het op ‘n paar interessanthede (en sommige teenstrydighede) afgekom.

Daar is in internasionale musiekgeledere groot kommer oor die welstand van die industrie (om dit eufimisties te stel!). Groot platemaatskappye het ernstige finansiële probleme. Hier is ‘n paar voorbeelde:

  • Van 2002 tot 2006 het die vier grootste platemaatskappye se wins gekrimp met 11%, en dit is ten spyte daarvan dat flieks en rekenaarspeletjies, waarvan die verkope geklim het, deel uitmaak van die wins.
  • EMI het in 2007 $50 miljoen gespandeer om CD’s te vernietig wat nie verkoop het nie en het aangekondig dat 2000 werknemers afgedank gaan word.
  • Die laaste “kersie op die koek” is die vars nuus dat die beroemde Abbey Road Studios gesluit gaan word. Vir die wat nie weet nie: Abbey Road Studios is waar al die Beatles-albums opgeneem is. Dit was nog altyd een van die bes ingerigte ateljees ter wêreld. Daar moet bygesê word dat Abbey Road Studios tans aan ‘n groot platemaatskappy behoort.

CD verkope was by verre die mees suksesvole medium vir die platemaatskappye en het ‘n piek beleef in 1999. Plate se piek was in 1978 en kasette in 1988. Die afname in verkope van CD’s is egter heelwat meer drasties as wat die afname van plate en kasette was.

Hier is ‘n grafiek wat die penarie beter beskryf as wat woorde kan:

Die ironie is egter dat musiekverkope internasionaal toegeneem het, maar dit word deur internetverkope oorheers en nie meer deur die groot maatskappye nie. Wat beteken dit vir die industrie? Die een positiewe gevolg is dat minder bekende musikante beter verkope beleef. Hierdie fenomeen word die “long tail” genoem. Daar is dus tans ‘n baie groter aanhang vir “indie”-musiek (afgelei van “independent artists”, m.a.w. kunstenaars wat nie kontrakte met die groot maatskappye het nie). Daar is dus ‘n groter verskeidenheid musiek wat oor ’n groter spectrum beter ondersteun word en makliker beskikbaar is vir die gebruiker. Hier is ‘n grafiek wat ek opgespoor het wat die verkope van musiek oor die algemeen aandui:

Bron: RIAA, Nielsen Soundscan

Daar is ook sommiges wat voel dit kom die groot maatskappye toe om nou swaar te kry. Vir te lank is die verbruiker voorgeskryf waarna hy/sy behoort te luister en is nie ag geslaan op die werklike behoeftes van die gebruikers nie. ‘n Voorbeeld wat baie gebruik word, is dat die verkoopprys van CD’s nooit gedaal het nie. Toe CD as ‘n musiekmedium die lig gesien het, was dit goedkoper om te produseer as kassette (oftewel: “tapes”), maar steeds was die prys heelwat hoër as die van ‘n kasset, en dit het nooit regtig baie gedaal nie, ten spyte van die kompetisie wat begin oorneem het as gevolg van internetverkope.

Ek was nog altyd stomgeslaan oor hoe magtig die musiekbedryf geword het. Soveel musikante was al op die voorblad van Time-tydskrif net oor hulle die vermoë het om musiek te maak waarvan mense hou. Bono (van U2), Peter Gabriel en vele ander word gesien as van die mees invloedryke (en rykste) mense op aarde en dit het begin met musiek.

Hoe lyk Afrikaanse musiek in vergelyking met bostaande? Ek kon bitter min inligting opspoor oor die finansiële stand van Afrikaanse musiek. Wat ek wel weet, is dat Afrikaanse musiek vir heelwat van die groot maatskappye in Suid-Afrika tans die beste verkopers oplewer. Miskien is dit omdat die internet nog nie so ‘n groot invloed daarop het nie, of miskien is dit die Zeitgeist wat tans heers in Suid-Afrika – klou vas aan wat jy nog oorhet en waaroor jy beheer het.

Tot ’n volgende keer dan – en onthou om die nuusbrief aan te stuur aan enigeen wat sal belangstel om dit te ontvang.

Herman

 

 

sel: 083 232 1377
epos: info@hermanvdb.co.za
hermanvandenberg.eu brelinafrikaans.eu
 
Kopiereg © 2000 - 2017 Herman van den Berg.
Alle regte voorbehou.
webwerf ontwikkel deur Dumel
grafiese ontwerp - Chenette Swart