Nuusbrief << Keer terug na Herman se nuusbriewe
 

Het ons skape geword?

Om repliek te lewer op hierdie artikel, kliek hier:

http://hermanvdb.wordpress.com. In besigheid is daar ’n 80/20 reël – 20% van die goedere dra by tot 80% van die verkope en wins. In die musiekbedryf is dit ’n 98/2 reël wat geld.

In 2009 het slegs 2.1% van die albums wat internasionaal uitgereik is, meer as 5000 eenhede verkoop, maar hierdie kerf is verantwoordelik vir 91% van die verkope. Dit is verbysterende statistiek! 5000 eenhede is waarskynlik die gelykbreekpunt oorsee vir klein, “Indie” CD-uitreikings, dit wil sê om uitgawes te delg as mens die kostes van opnames, die drukproses en bemarking daar in ag neem. Om meer gesogte, hoofstroom-musikante op te neem en te bemark, laat styg die koste baie hoër. BMG (een van die grootste platemaatskappye) meen hulle moet 2 miljoen albums verkoop van ’n “major label act” om uitgawes en inkomste net te laat balanseer. In Suid-Afrika is die gelykbreekpunt heelwat laer, aangesien ons huurtariewe vir opname-ateljees en musikante heelwat laer is. (Terloops, ek sien daar is ál meer belangstelling van internasionale sterre om hier te kom opneem.)

Musiek was nog altyd ’n hoërisiko-, hoëopbrengs-bedryf, maar ek wonder deesdae dikwels wat die oorsaak hiervan is. Het die verbruiker werklik ’n keuse waarna hy/sy wil luister? Verkoop beter musiek beter? Nee. ’n Onomwonde nee.

En tóg: ek het in my vorige nuusbrief uitgebrei oor hoe die Internet verbruikers toelaat om ’n groter keuse uit te oefen oor waarna hulle luister. Ek dink egter in Suid Afrika het hierdie tendens nog nie posgevat nie.

Musiek is na my mening al meer besig om ‘n “image”-bedryf te word – musiekopnames word nie meer gekoop op meriete nie. Dit is seker in ‘n groot mate veroorsaak deur die media, waar die visuele nou baie meer domineer as jare terug. Heelwat mense is geneig om die musiekbedryf (die platemaatskappye) hiervoor te blameer, maar ek dink die blaam kan ook in ‘n mate op die verbruikers geplaas word. Ek het onlangs ’n aanhaling gelees wat dit vir my uitstekend opsom: “We’ve become a society that no longer thinks. We don’t even know what we like, we just like what we know and what most of society is subjected to is this nicely packaged, clean and easy on the eyes and ears (think Disney) entertainment… Large corporate entities dictate what most of the public ‘thinks’ they want. It’s been in the making for so long, we are no longer aware of it. It’s the reason why most superstars are young, easy on the eyes and all sound the same. Most music is nothing but neatly packaged chicken that’s already been cleaned for you.” – Ernest Buckley

Ek het hierde week ‘n sprekende voorbeeld hiervan beleef. ‘n Vriend van my is betrokke by die uitreiking van ’n debuut-CD van ’n onbekende sangeres. Hulle het ’n paar goeie foto’s laat neem, ’n mooi webwerf geskep, vir haar ’n Facebook-profiel opgestel en, siedaar!, voor enigiemand nog ’n noot gehoor het is 1800 CD’s al verkoop. (Die CD is nog nie klaar nie en geen musiek is nog vrygestel nie.) Hoekom het dit gewerk? Die enigste verklaring: “looks”!

Maar dit is nie ’n situasie wat ons sal kan verander nie. Dit is die Zeitgeist van die oomblik en is iets wat ons seker net kan gadeslaan. Tog steek dit my soms dwars in die krop om te moet beleef ons het soos skape geword.

Op die horison

Hier is waarmee ek tans besig is:

Agent Snoet en die Hondelewe
Die ATKV het besluit om ’n projek te loods en ’n nuwe musiekblyspel op die planke te bring. Schalk Schoombe en ek is gevra om die lirieke en musiek te behartig, gebaseer op ’n boek deur Francois Bloemhof en Alistair Ackermann. Lizz Meiring gaan die regié behartig. Die produksie sal op die planke gebring word in November en volgende jaar met mening deur die land toer.

Brel in Afrikaans 2
Die kans is goed dat daar ’n nuwe Brel-in-Afrikaans-CD vanjaar die lig gaan sien. Ons is nog steeds in onderhandelinge oor die regte vir die vertaling van die musiek. Ek moes op die ou end opnames maak van ons interpretasies om toestemming te kry om dit wel te mag uitreik op ’n CD. Hopelik sal hulle darem instem.

Konserte

Beskrywing: Dit Is Wat Dit Is
Wanneer: 9 Junie
Venue: Centurion-teater, Centurion.
Besprekings: (012) 664 7859

Beskrywing: Brel & Piaf: Paryse tweesang. Musiek van Brel en Piaf gesing deur my en Jolette Odendaal. Wanneer: 6 en 7 Julie Venue: Volksblad-kunstefees, Bloemfontein Besprekings: Computicket

Beskrywing: Toonsettings
Wanneer: 18 en 22 Augustus Venue: Centurion-teater, Centurion. Besprekings: (012) 664 7859

Tot ’n volgende keer dan – en onthou om die nuusbrief aan te stuur aan enigeen wat sal belangstel om dit te ontvang.

Herman

 

 

sel: 083 232 1377
epos: info@hermanvdb.co.za
hermanvandenberg.eu brelinafrikaans.eu
 
Kopiereg © 2000 - 2017 Herman van den Berg.
Alle regte voorbehou.
webwerf ontwikkel deur Dumel
grafiese ontwerp - Chenette Swart