Nuusbrief << Keer terug na Herman se nuusbriewe
 

Snoet, Brel, Vergenoeg en Skilder met Woorde

Die afgelope paar maande was seker die besigste tyd wat ek in jare gehad het. Daar is darem nou lig aan die einde van die tonnel en ek moet sê dat dit heerlik is om te kan noem dat ek vier projekte afgehandel het.

Die nuwe "Brel in Afrikaans"-CD is voltooi en word weldra gedruk. Dit is die tweede CD met vertalings van Brel in Afrikaans wat ek vervaardig en is getiteld BREL - Laat my by jou bly. Ek het lank gewik en -weeg of ek nog ’n Brel-CD moet aanpak en my uiteindelike beweegrede was die feit dat ek so ’n ontsaglike waardering vir sy musiek het en myself nie kon kry om dit nie op te neem nie. Die musiek op die nuwe album is ‘n versameling van heelwat van my gunstelinge en alhoewel dit van die beroemde snitte soos Marieke, Laat my by jou bly (Ne me quitte pas) en Tot mens ’n vriend sien huil (Voir un ami pleurer) insluit, is daar ‘n paar minder bekende juwele ook op, liedere wat my selfs nog nader aan die hart lê. Die produksie was heelwat groter as met die eerste Brel-CD en sluit o.a. opnames met ’n strykensemble in. Om saam met strykers te kon werk was ’n wonderlike ervaring en plaas na my mening die produk in ’n ander klas as die vorige. Die CD gaan ’n maand of wat slegs beskikbaar wees by optredes, maar sal daarna gelyktydig in België, Nederland en Suid Afrika vrygestel word.

Gaan kyk gerus na die klein dokumentêre video oor Brel en die CD: http://www.youtube.com/watch?v=auORyroaZDw

Dan is daar Agent Snoet en die Hondelewe wat my besig gehou het. Omtrent ’n jaar en ’n half terug het die ATKV my en Schalk Schoombie genader om ’n musiekblyspel te skryf gebaseer op die strokiesprentboek met dieselfde titel. (Schalk moes die teks skryf en ek die musiek.) Agent Snoet is ’n aksiemusiekspel vir die hele gesin – iets wat nog nooit in Suid-Afrika te siene was nie. Soos Lizz Meiring (regisseur) sê: "Dit is ’n nuwe genre wat geskep word."  Dit is ­’n gatskop-, "funky" musiekblyspel waarby ‘n wye gehoor aanklank sal vind, hoewel dit veral op die skolemark gemik is. Dit was ’n voorreg om deel te wees van die produksie en die finale produk het my verwagtinge oortref. Ek haal my hoed af vir die ATKV wat so ’n produksie op die planke laat bring het.

Vir meer inligting, besoek gerus: http://www.atkvproduksies.co.za/agentsnoet/

Agent Snoet gaan deur die loop van die jaar in verskeie venues, die land oor, opgevoer word. Die program is beskikbaar by:
http://www.atkvproduksies.co.za/agentsnoet/?page_id=57

Agent Snoet is ook deur Facebook, Twitter, YouTube en wie weet watter kanale nog toeganklik. Al die links is op bogenoemde webwerf beskikbaar, vir díe wat belangstel.

Skilder met Woorde was ’n interessante projek. Dit is weer eens ’n produksie wat deur die ATKV geïnisieer is en behels ’n samewerkingsprojek tussen beeldende kunstenaars en digters wat met musiek en voorlesing ondersteun word. Die proses was soos volg: Daar is aan sewe beeldende kunstenaars opdrag gegee om ’n kunswerk te skep rondom die tema "Dís Afrikaans!". Elke kunstenaar is gekombineer met ’n digter. Deur middel van wisselwerking tussen die beeldende en woordkunstenaars is daar dan tussen elke paar ’n visuele kunswerk en ’n gepaardgaande gedig geskep wat die gegewe tema uitbeeld. Die volgende stap was dat stemkunstenaars (Chris van Niekerk en Elzette Maarschalk) die gedigte voordra en opneem. Ek het ten slotte ’n klankbaan vir elke kunswerk-en-gedig-kombinasie geskep.

Op die uitstalling word elke kunswerk/gedig individueel belig terwyl die klankbaan gehoor kan word. Skilder met Woorde is tans of binnekort te siene by Woordfees en die KKNK.

Ek het laastens ook musiek geskryf vir die musiekteaterstuk Vergenoeg, wat deur Sandra Prinsloo, Alexa Strachan en Milan Murray aangebied word en nou ook o.a. by die Woordfees te siene is. Die stuk behels ’n verhoogverwerking van die gelyknamige boek deur Marieta van der Vyver. Dit lyk my daar is ’n moontlikheid dat daar ook ’n film gemaak gaan word, gebaseer op die teaterproduksie en die boek.

Op die horison
Hier is waarmee ek tans besig is:

Brel&Piaf: Paryse tweesang

Na die sukses van "Brel in Afrikaans", het Bernard Odendaal en Naòmi Morgan hulle gewend na Piaf. Ek en Jolette Odendaal het verlede jaar ‘n paar uiters suksesvolle konserte gehou met Brel en Piaf se musiek in Afrikaans en gaan vanjaar ons ernstig daarop toespits om die vertoning meer dikwels aan te bied. Intussen het ons vir Chris van Niekerk gekry as regisseur van die produksie.

Na die volgende reeks vertonings vertrek ek dan ook oorsee vir die vrystelling van die nuwe Brel-CD in die Benelux-lande, maar die datums is nog nie gefinaliseer nie. So, later meer daaroor.

Konserte

Beskrywing: Brel&Piaf: Paryse tweesang
Wanneer: 12 Maart
Venue: Nag-Kat, Stellenbosch (Woordfees)
Besprekings: Computicket

Beskrywing: Brel&Piaf: Paryse tweesang
Wanneer: 18 tot 21 Maart
Venue: Brooklyn-teater, Pretoria
Besprekings: http://www.brooklyntheatre.co.za/ of (012)460 6033

Beskrywing: Brel&Piaf: Paryse tweesang
Wanneer: 6 tot 9 April
Venue: Oudtshoorn Courant Noordsaal (KKNK)
Besprekings: Computicket

Tot ’n volgende keer dan – en onthou om die nuusbrief aan te stuur aan enigeen wat sal belangstel om dit te ontvang.

Herman
 

 

sel: 083 232 1377
epos: info@hermanvdb.co.za
hermanvandenberg.eu brelinafrikaans.eu
 
Kopiereg © 2000 - 2017 Herman van den Berg.
Alle regte voorbehou.
webwerf ontwikkel deur Dumel
grafiese ontwerp - Chenette Swart