Nuusbrief << Keer terug na Herman se nuusbriewe
 

Waar is die weldoeners?

’n Paar gebeurtenisse die afgelope ruk het my laat besef het dat als nie pluis is nie. (Of dit met my of met die wêreld is, is seker ook ’n geldige vraag.)

Die eerste gebeurtenis is die borgskap wat ons ontvang het vir die nuwe Brel – Laat my by jou bly-CD. (Ek sê "ons", want dit is beslis nie my toedoen dat die projek van die grond af gekom het nie. Proff. Naomí Morgan en Bernard Odendaal is eintlik die breine daaragter.) Die Universiteit van Vrystaat, Stichting Neerlandia en selfs ’n borgskap deur Jaap Steyn – beter bekend as die skrywer en navorser J.C. Steyn – het hierdie CD moontlik gemaak. Dis die eerste keer dat ek soveel finansiële ondersteuning geniet het vir ’n projek, en dít omdat instansies en mense entoesiasties was oor die konsep – selfs vanuit ’n akademiese perspektief.

Die tweede is die nadraai van Agent Snoet, die musiekspel wat hierdie jaar oraloor in die land te siene was. ’n Bietjie agtergrond vir die wat nie weet nie: Die ATKV het vir my en Schalk Schoombe gevra om ’n musiekspel te skryf en het die produksie op die planke gebring met Lizz Meiring as regisseuse. Dit was voorwaar ’n voorreg om deel te wees van die produksie. Die terugvoer was baie positief, veral deur hoërskoolkinders, wat die hoof-teikengroep van die produksie was. Ek het baie waardering vir wat die ATKV vermag het met die produksie en dat hulle bereid was om die groot kapitale uitleg te maak en as’t ware hulle kop op ’n blok te sit.

Die volgende gebeurtenis is die artikel oor Riku Lätti se uittrede uit die Afrikaanse musiekwêreld, wat hier te lese is: http://www.dieburger.com/By/Nuus/n-Bedankingsbrief-uit-die-musiekbedryf-20110805-2. Dit blyk uit die gesprek wat hy met die skrywer van die artikel gehad het dat hy moedeloos, desperaat en amper kwaad is. Hy kan nie sy gesin ondersteun met die geld wat hy verdien uit musiek nie. Die ironie van die saak is dat Riku een van die land se hoogste aangeskrewe liedskrywers is. Die kritici is altyd vol lof vir sy werk.

Dit bring my by die eintlike kwessie: geld. Sonder finansiële ondersteuning kan die kunste nie bestaan nie. Nou word seker gevra: Maar wat van Steve Hofmeyr, Kurt Darren en al die ander grootgeldverdieners? Daar is ’n reuseverskil tussen artistieke strewe en vermaakskeppery. Vermaak is natuurlik oukei – en kuns kan ook vermaak wees, maar word nie in die eerste plek met die oog op vermaak geskep nie.

Beethoven het in sy tyd musiek gemaak wat beslis nie as vermaak bestempel kon word nie. Dit was musiek vir ’n fynsinnige gehoor, maar meer belangrik: Daar was geen verwagting dat hy moes geld maak uit die musiek nie. Hy, en ander van sy tydvak, het finansiële ondersteuning geniet van weldoeners. Dínk net daaraan: As hy nie die finansiële ondersteuning gehad het nie – en dit sónder dat die weldoeners gereken het daarop dat hulle "belegging" geldelike rendimente sou oplewer – sou die skat van die musiek van die Beethovens van hierdie wêreld nie met ons gewees het nie.

Dit laat my wonder of ons nie dalk die kat aan die stert beet het met kapitalisme nie. Sou sulke musiek bestaan het as daar ’n onbeskaamd kapitalistiese stelsel aan die roer van sake was? Die "return on investment"-berekeninge sou dalk maar bedroewende dinge opgelewer het.

En moenie dink klassieke komponiste was uit die staanspoor meesterlik nie. Dit verg jare se oefen en komponeer om die vlak te bereik het wat hulle wel bereik het. Dit is welbekend dat Mozart reeds op sewejarige ouderdom sy eerste werk gekomponeer het, maar wat baie mense nie besef nie is dat sy eerste komposisie wat as goed bestempel is eers op ’n ouderdom van 21 gekomponeer was. Ondersteuning moes dus oor jare gekom het en moes gestrek het oor tye waar die musikante besig was om hulle talente nog te ontwikkel.

Sulke weldoeners het dus eintlik in net een ding belê: die beskawingstoekoms.

Sommige van die Europese lande bied wel goeie ondersteuning vir die kunste. Sover ek verstaan, bied België wonderlike finansiële ondersteuning aan kunstenaars in ’n verskeidenheid velde, onder andere dié van musiek. Al wat van die kunstenaar verwag word, is dat hulle ’n sekere hoeveelheid werke moet genereer en dat dit van ’n goeie gehalte moet wees (in die oë van kundiges). Ek het hierdie ondersteuning persoonlik geniet tydens die vervaardiging van die Brel – Laat my by jou bly-CD, waar ’n kultuurinstansie soos die Stichting Neerlandia ruim bygedra het om die CD op die rakke te kry.

Nog ’n voorbeeld: Onlangs is die vraag gestel – op ’n musiekforum op die internet – waarom Swede met soveel suksesvolle musikante kan spog. (Musiek is een van die grootste uitvoerprodukte van Swede, en heelwat van die popmusiek vir byvoorbeeld die Amerikaanse mark word vandag nog daar geskryf.) ’n Sweedse musikant het self geantwoord dat ’n groot bydraende faktor die ondersteuning deur hul regering is. Blykbaar is daar gratis musiek-oefenlokale, toegerus met instrumente, beskikbaar in selfs die kleinste dorpies in Swede, sodat studente onbelemmerde oefengeleenthede het.

Maar wie is die weldoeners hier in Suid-Afrika? Die regering gaan beslis nie eurosentriese kuns of musiek bevorder nie; die onus moet dus val op kultuurinstansies, soos die ATKV wat bewys het dat hulle daad by woord sit.

Dit is yslike verlies, eintlik ’n skande, dat daar nie instansies is wat iemand soos Riku wil ondersteun nie. Ek is nou nog hartseer – nee eintlik kwaad, dat een van my gunsteling Afrikaanse musiekgroepe, Marimba, nie die mas kon opkom nie. Hulle musiek was uitstekend, maar wat ook, soos Riku s’n, meer aanhang geniet van die fynproewers (of fynluisteraars seker).

Ek dink dit is neusie verby vir musiekverkope oor die toonbank. Ek het al in vorige nuusbriewe die situasie bespreek, maar intussen het dit net versleg. Bekende groepe soos U2, Radiohead en ander het al vir lief geneem daarmee dat hulle nie meer gaan geld maak uit CD-verkope nie, en spits hulle toe op konserte. Die probleem is dat hulle nodig gehad het om die musiek bekend te maak voor hulle konserte van die kaliber van tans kon aanbied.

Om op CD-verkope staat te maak, is vir kunstenaars is nie meer haalbaar nie. Let op: Ek sê "kunstenaars"; nie vermaaklikheidsterre nie.

In my geval kry ek ’n addisionele inkomste uit werk as ingenieur, wat my oorlewing verseker, en verder was ek in die ongelooflike bevoorregte situasie gewees om finansiële ondersteuning te kon geniet met my laaste twee projekte. Daar is wel die nadeel dat mens so hard werk om geld bymekaar te kry om musiek te kan maak, dat mens nie die tyd het om die musiek te maak nie, maar dit is seker om met die witbrood onder die arm te kla.

Riku (en Marimba) het ongelukkig nie daardie vangnet nie... Ek kan heeltemal verstaan dat hy die tou-opgooi-stap geneem het.

Vandaar my vraag: Wie en waar is die weldoeners?

Op die horison

Nuwe CD
Ek het al ’n hele paar ideesvir die volgende CD. Die plan is om later vanjaar te begin opneem.

Piaf CD
Ons gaan poog om ’n soortgelyke projek te loods as met die Brel in Afrikaans vir Edith Piaf se musiek, wat deur Jolette Odendaal gesing sal word. Meer daaroor later.

Konserte

Beskrywing: Brel & Piaf: Paryse tweesang
Wanneer: 8 November
Plek: Atterbury-teater, Pretoria
Besprekings: Computicket

Beskrywing: Ek, alleen en jy natuurlik
Wanneer: 24 November
Venue: Papillon Theatre, Wakkerstroom
Besprekings: 083 302 4064, elsa@drspringolo.co.za

Tot ’n volgende keer dan – en onthou om die nuusbrief aan te stuur aan enigeen wat mag belangstel om dit te ontvang.

Herman

 

 

sel: 083 232 1377
epos: info@hermanvdb.co.za
hermanvandenberg.eu brelinafrikaans.eu
 
Kopiereg © 2000 - 2017 Herman van den Berg.
Alle regte voorbehou.
webwerf ontwikkel deur Dumel
grafiese ontwerp - Chenette Swart