Wat sê die Media van Herman van den Berg? | |
Persvrystelling Brel - Laat my by jou bly (Herman van den Berg, 2011) |
|
|
Laat my by jou bly Sowat drie jaar na die CD-bekendstelling en ‘n suksesvolle konserttoer van Brel in Afrikaans in Suid-Afrika en Europa, is Herman van den Berg terug met ‘n tweede CD, Brel – Laat my by jou bly,wat hulde bring aan die meester van die Franse chansons. “Die eerste album oor Jacques Brel was ‘n veel kleiner projek en die liedjies het veral gefokus op mylpale in Brel se loopbaan,” vertel Herman. “Met die tweede album het ons meer moeite gedoen met musikale verwerking en ‘n meer van my gunstelinge ingesluit, liedjies wat soms snydende sosiale kommentaar lewer maar ook hartverskeurend mooi is. Toe ek die liedjies hoor, het ek gedink dit sou ‘n skande wees as dit nie in Afrikaans opgeneem word nie.” Die keiser van chansons Jacques Brel (08/04/1929 - 09/10/1978) se lirieke word dikwels bestempel as so goed soos gedigte. Dít het Naòmi Morgan en Bernard Odendaal van die Vrystaatse Universiteit oorreed om ’n Brel-vertaalprojek in 2006/2007 aan te pak, Brel in Afrikaans. Uiteindelik het hulle Herman genader om as vertolker daarvan op te tree. Hierdie is die tweede CD as resultaat van dié samewerking. Jacques Brel, “die keiser van die chanson”, is ’n paar jaar gelede aangewys as waarskynlik die grootste Belg wat ooit geleef het. Franssprekendes dwarsoor die wêreld het gestem dat sy beroemde Ne me quitte pas die grootste lied van die twintigste eeu was. Brel het oor ’n merkwaardige beeldende vermoë beskik. Hy kon dramatiese toneeltjies meesterlik voorstel en treffende karaktersketse maak in sy chansons – “gesonge eenakters”, soos ’n kritikus hulle beskryf het. ’n Unieke en sterk persoonlikheid spreek uit sy werk. Sentimentaliteit, wat kenmerkend is van die gewilde Engelse vertalings, was vreemd aan veral die meer volwasse Brel. Snydende ironie en sarkasme kenmerk eerder sy werk; maar dan is die spot byna altyd getemper deur ’n milde mededoë. Hy het selde die Franse woord vir liefde, amour, gebruik, en eerder gekies vir tendresse (teerheid) – hoewel hy, buite sy huwelik met sy Brusselse jeugliefde om, verhoudings met ’n menigte vroue aangeknoop het! Voorts het hy ’n spesiale waardering gehad vir die kameraderie tussen mans. Die belangrikste tema in sy liedere is egter waarskynlik die dood en die ouderdom. Verwerkings Die vernaamste musikale verskil tussen die eerste en tweede Brel-albums is die gebruik van strykers om ‘n voller, simfoniese klank na te streef. Hiervoor is verskeie musici van Bloemfontein ingespan. Klavier-virtuoos Matthys Matthee, ‘n gereelde medewerker van Herman, verskaf soos altyd die “goue draad” met sy geïnspireerderyke klawerwerk. “Ek het besluit om met stykers te werk vir hierdie CD en dit het van die begin af ‘n nuwe dimensie verskaf. Dit het selfs die besluit van watter liedere gekies is, beïnvloed. As gevolg hiervan is die verwerkings dus ook meer kompleks en genuanseerd. “Die verwerking van ‘n Ravel se klavierkonsert in Die Wanhopiges, is aangrypend mooi,” meen Herman. “Heelwat van die krag van Brel se liedjies het gesetel in die sensitiewe bydrae van sy pianis, Gérard Jouannest, wat meeste van sy musiek verwerk het en medekomponis op heelwat van die musiek was. Hy kon Brel se eenvoudige melodieë vir die klavier verweef met gevoelvolle klavierspel. Ons het hierdie meesterlike musikaliteit probeer eerbiedig met ons weergawes.” Kortverhale “Ek verbaas my altyd hoe sterk Brel se liedjies is,” sê Herman. “Hy was ‘n meester met die manier waarop hy ‘n storie in musikale poësie kon vertel. Sy werk het ontwikkel iewers tussen die ou soort ballade en moderne musiek, natuurlik met sy eie kontinentale flair wat hartstog en hartseer saamvleg. Ek leer heelwat uit sy liedjies, want daar is altyd sulke interessante akkoordprogressies, van heel eenvoudig tot taamlik verwikkeld. Hy kan jou fnuik met die skynbare eenvoud van sy musiek. Toe ek begin verwerk daaraan, het ek agtergekom in elke versie word die akkoord verander. Brel het homself nie laat kortwiek deur die tradisionele struktuur van versie, koor en brug nie; hy het die storie op die mees effektiewe en kragtige manier oorgedra. In Tot mens ‘n vriend sien huil is daar vir elke vers ‘n subtiel ander verwerking. Kenmerkend is dat hy met vyf versies en progressie in musiek en lirieke gewerk het.” Die CD het elf snitte wat afskop met een van Brel se mees beminde treffers, Marieke. Die emosionele titelsnit, Laat my by jou bly, is ‘n vertaling van Ne me quitte pas, met ‘n wysie wat wêreldberoemd geword het. Rod McKuen, Frank Sinatra, Tom Jones, Shirley Bassey, Neil Diamond, Dusty Springfield, Madonna, Sting en Cyndi Lauper het almal opnames van die liedjie gemaak, ‘n aanduiding van die universele impak daarvan. Ander snitte wat elk op ‘n eiesoortige manier Brel se hartstog laat weerklink, is Mathilde, Orly, Nuwe liefde, Smeekbedes, Die Marquises en Fernand. Brel se melancholiese verknogtheid aan die moderne stad resoneer in Die stad sluimer in. Van taal tot taal Die skeppende vertaling van Brel se chansons is behartig deur twee taalfoendies: Naòmi Morgan en Bernard Odendaal van die departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans aan die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein. Naòmi Morgan (professor in Frans) het die letterlike vertaling gedoen en Bernard (Afrikaans/Nederlandse professor en gepubliseerde digter) het die poëtiese verwerking gedoen. Daarna het Herman die sing- en verstaanbaarheid getoets en hier en daar veranderinge voorgestel. Soos voorheen het Naòmi en Bernard hul beywer om die digterlike kwaliteite van Brel se liedere te respekteer en om toeganklike Afrikaanse weergawes te skep sonder kulturele verplasing na die Suid-Afrikaanse omstandighede, maar wat esteties ewe treffend as die oorspronklike sou wees. Professor Frans Swanepoel van die Direktoraat Navorsings-ontwikkeling aan die Universiteit van die Vrystaat het finansiële steun gebied om die opneem van die strykers-begeleiding in die meeste van die snitte op hierdie CD moontlik te maak. Klankreis Die produksieproses, wat opnames en klankmeng insluit, het sowat nege maande geduur. “Vir die strykers het ek 'n lokaal gereël in Bloemfontein, waar al die strykers woonagtig is, en my toerusting soontoe gekarwei. Die res van die opnames is in my tuis-ateljee gedoen.” Herman het sang, kitare, klarinet, verwerkings, opnames en meng behartig. Matthys Maree was die pianis op alle snitte behalwe Die Wanhopiges, waar Saranti Rheeders die klawers speel. Die akkordion is gespeel deur Sergio Zampolli. Die res van die orkes bestaan uit gesoute musiekante: David Klassen (tromme, perkussie), Theo Klassen (baskitaar) en Jaconelle Mouton (orrel). Herman van den Berg het drie ander albums op sy kerfstok; Herman van den Berg, Proe die aarde en Dit is wat dit is, elk hoog deur resensenteaangeprys en twee wat finaliste vir South African Music Awards was.In 2010 het Herman die musiek gekomponeer vir die ATKV se gesinsmusiekspel, Agent Snoet en die hondelewe, wat vanjaar landwyd toer. Laat my by jou bly word opgedra aan J.C. (Jaap) Steyn “vir daadwerklike morele en finansiële steun – om sodoende ook vir Jacques Brel ‘n tuiste in ons taal te skep”. |
Kopiereg ©
2000 - 2017 Herman van den Berg. Alle regte voorbehou. |