Wat sê die Media van Herman van den Berg?
   
Persvrystelling
Herman van den Berg verander Afrikaanse musiek se deuntjie!
(Herman van den Berg, 2000)


‘n Nuwe stem is besig om groot opslae te maak in die Afrikaanse musiek bedryf. Sy naam is Herman van den Berg en sy musiek gee uiteindelik aan Afrikaans ‘n internasionale klank. Met musikale invloede soos Cheryl Crow, Sting, Eric Clapton, Shawn Colvin, Crowded House, Mark Knopfler en Janis Ian kan dit ook nie anders nie! Hierdie begaafde sanger en musikant se musiek is ‘n kundige vermenging van internasionale klanke en stof uit eie bodem.

Herman maak al van jongs af musiek. Hoewel hy sy tande gesny het op die klarinet, het hy op universiteit ‘n liefdesverhouding met die kitaar aangeknoop wat met die tyd net sterker geword het. As ‘n Tukkie ingenieursstudent was hy lid van die universiteitskoor, die groep Fortukssimo en die kabaretgroep Tuksedo. Hy was ook algehele wenner van die universiteit se Ligteliedjiefees. Na voltooiing van sy universiteitsopleiding raak hy betrokke by verskeie musiekproduksies as kitaarspeler en musiekskrywer. Hy eindig vir twee agtereenvolgende jare as ‘n Crescendo finalis. Sy groot droom bly egter om ‘n CD van sy eie te maak. In 1999 laat hy die Afrikaanse musiekgemeenskap regop sit met sy bydrae tot Geraas se Vuurdoop kompetisie. Hoewel hy uiteindelik tweede eindig, kry hy wel die geleentheid om sy eie CD te maak.

Die vertoning KAAL wat hy vanjaar op KKNK opgevoer het bevat onder andere ‘n versameling liedjies uit die debuut CD, bloot getitleld Herman van den Berg. Herman glo ook dat lirieke ewe hard moet saamgesels. ‘n Mens soek verniet na geykte liefdesliedjies! Benewens roerende toonsettings soos Ingrid Jonker se Windliedjie, WEG Louw se Vaalvalk en ID Du Plessis se Vreemde Liefde, bied van die musiek ook ‘n satiriese blik op dinge waaroor daar nog nie regtig in Afrikaans oor gesing is nie. Poeier en Kwas bekyk die dilemma van transvestiete, Wie kan dit hou steek die draak met moeilike huweliksmaats en Vyf maande handel oor die tammeletjie van voorhuwelikse seks. Tog word al hierdie onderwerpe met groot smaak en musikale flair aangeroer- nog ‘n eerste in Afrikaanse musiek! Benewens sy passie vir musiek is Herman ook ‘n kranige en bekroonde fotograaf en sy aanvoeling vir die visuele vind vastrapplek in sy verfrissende gebruik van beelde in sy lirieke. Hierdie CD baan nuwe weë vir Afrikaanse musiek.

Herman woon saam met sy vrou Seugnet, wat niks met die musiek bedryf uit te waai het nie, in Johannesburg.

   
sel: 083 232 1377
epos: info@hermanvdb.co.za
hermanvandenberg.eu brelinafrikaans.eu
 
Kopiereg © 2000 - 2017 Herman van den Berg.
Alle regte voorbehou.
webwerf ontwikkel deur Dumel
grafiese ontwerp - Chenette Swart