Wat sê die Media van Herman van den Berg?
   
Persvrystelling
Proe die aarde (Herman van den Berg, 2002)


Herman van den Berg se tweede CD, proe die aarde, vervul al die musikale beloftes wat in sy debuut CD, Herman van den Berg, gemaak is. Reeds die titel, proe die aarde, berei jou voor op ‘n sonderlinge smaaksensasie: die musiek is vars, opwindend verwerk en besit geheel en al ‘n internasionale klank. Liefhebbers van rock, jazz, akoestiese kitaar en world music sal almal aanklank vind by Van Den Berg se klank. Tog verklap die titel ook iets van Herman se aardsheid en liefde vir egtheid. Herman se fyn oor en musikaliteit vind hul inslag nie net in die komposisie van sy werk nie, maar ook in die verwerkings. Die musiek is ‘n tapeserie van ryk klanke en meesleurende ritmes. Musikale invloede komende van Sheryl Crow, Sting, Eric Clapton, Shawn Colvin, Crowded House, Mark Knopfler en Janis Ian inspireer Herman om grense te versit. In die song Muse voer die klank van ‘n siter jou mee oor ‘n droomlandskap, die polsende ritme van Tog laat ‘n horde cowboys voor die geestesoog verskyn en ‘n guitige trompet in Mr Magoo verleen ‘n sprank van energie. Die musiek is geskakeerd: elke luister lei ‘n mens met tot ‘n nuwe ontdekking. Meeste van die songs kry aan die einde ‘n verrassende kinkel, wat net bydra tot die lekkerkry!

Herman is baie gesteld daarop dat musiek en liriek ewe sterk moet staan. Terwyl al die musiek op die CD deur Herman self geskep is, het hy plek-plek hulp gekry met die veelseggende lirieke. Beiteltjie is ‘n kragtige toonsetting van NP van Wyk Louw en Hoe ver is eendag is ‘n betragting van Antjie Krog oor liefde en sterflikheid. Persoonlike verhoudings en belewenisse vorm die spil waarom die inhoud van die woorde draai. Die intieme toon van die lirieke word versterk deur ‘n helpende hand van sy bedryfsielkundige vrou, Seugnet. My Hart, Snags, Muse, Pêlle in Exile en Mister Magoo is sprekend van hulle vrugbare vennootskap. Liefde en intimiteit word op ‘n aangrypende wyse besing, maar spring vaardig die slagysters van sentimentaliteit vry. Kort verwysings na die inspirasie agter elke song ontsluit die inhoud selfs meer. Die song Snags handel oor saamslaap, maar die soort wat selde besing word: Wanneer mense slaap is hulle nabyheid anders, hulle voed mekaar op ‘n vreemde manier. Soos ‘n droom, waar wind die kantgordyne laat bol, amper spookagtig. Die song Pêlle in exile verwoord op ‘n eerlike en onopgesmukte manier die dilemma van baie Suid-Afrikaners, naamlik ‘n vriendekring wat toenemend oor die wêreld versprei is. Hierdie song is een van die redes wat ‘n mens sal noop om hierdie CD vir elke pêl in die buiteland te wil stuur. Herman sing onder andere: So word jou wortels verpand vir dollar en pond te teenoor rand/ Dis bangers teen Ouma beskuit/Geen son net reën teen die ruit/ En jy weet jy’t dit self besluit maar dit voel steeds soos exile. Benewens sy passie vir musiek is Herman ook ‘n kranige en bekroonde fotograaf en sy aanvoeling vir die visuele vind vastrapplek in sy verfrissende gebruik van beelde in sy lirieke. Sy broer Heinrich, ook ‘n bekroonde fotograaf en joernalis, het die foto’s en bladuitleg van die CD omslag gedoen.

Hierdie ingenieur van nering bevestig met proe die aarde dat hy ‘n Suid-Afrikaanse stem is om mee rekening te hou. Herman maak al van jongs af musiek. Hoewel hy sy tande gesny het op die klarinet, het hy op universiteit ‘n liefdesverhouding met die kitaar aangeknoop wat met die tyd net sterker geword het. As ‘n Tukkie ingenieursstudent was hy lid van die universiteitskoor, die groep Fortukssimo en die kabaretgroep Tuksedo. Hy was ook algehele wenner van die universiteit se Ligteliedjiefees. Na voltooiing van sy universiteitsopleiding raak hy betrokke by verskeie musiekproduksies as kitaarspeler en musiekskrywer. Hy eindig vir twee agtereenvolgende jare as ‘n Crescendo finalis en neem sy solo vertoning Kaal na Aardklop 1998. In 1998 laat hy die Afrikaanse musiekgemeenskap regop sit met sy bydrae tot Geraas se Vuurdoop kompetisie. Hoewel hy uiteindelik tweede eindig, kry hy wel die geleentheid om sy debuut CD te maak. Die CD Herman van den Berg word op die koop toe genomineer vir ‘n SAMA toekenning in die kategorie Beste Afrikaanse Kontemporêre CD. In 2000 tref hy, Anna Davel en Joe Niemand KKNK met ‘n kabaret genaamd Pers. Tans is hierdie veelsydige musikant en multi-instrumentalis besig om te werk aan ‘n musical saam met Schalk Scoombie.

Proe die aarde bou meer as net voort op die goeie werk van sy voorloper. Dit is ‘n moet vir musiekliefhebbers wat soek na kwaleit en substansie. Dis die soort vrystelling wat ‘n mens geloof gee in die rigting waarin Afrikaanse musiek groei.

   
sel: 083 232 1377
epos: info@hermanvdb.co.za
hermanvandenberg.eu brelinafrikaans.eu
 
Kopiereg © 2000 - 2017 Herman van den Berg.
Alle regte voorbehou.
webwerf ontwikkel deur Dumel
grafiese ontwerp - Chenette Swart