 |
Onthou Dit was die een wat die langste van al my projekte geduur het – ’n volle jaar! Maar uiteindelik is die nuwe CD, Onthou, beskikbaar. En hopelik bewys dit al die tyd wat ek daarmee gedoen het, as waardige belegging.
Die CD kan hier bestel word.
Die album is ook beskikbaar op iTunes en ander digitale platforms.
Soos die titel aandui, gaan dit hier oor onthou – om herinneringe te laat herleef deur musiek. Ek het op ’n dag besef het dat die meeste van die musiek op die album wentel om persoonlike herinneringe; en toe die tema gefinaliseer is, het dinge in plek begin val. Van die liedjies wat ek voorheen oorweeg het vir die album, is weggelaat aangesien dit nie ingepas nie, en ander liedjies wat ek oorweeg het vir vorige albums, het nou hulle plek gevind op die nuwe CD.
Musiek en herinneringe is vir my só heg verweef. As ek na musiek luister, gebeur dit dikwels dat sommige liedjies vir my byna die plek self gewórd het waar die musiek tot my siel deurgedring het. Ek het probeer om dieselfde te bereik met die liedjies van hierdie album – om die stemming van die inspirasie-oomblik vas te vang. Waar ’n foto die beeldindruk van ’n ervaring kan vasvang sónder die emosie, vang die musiek die emosie vas sonder die visuele impressie.
Hierdie idee het ook die omslagontwerp bepaal. Eerstens is my beste herinnneringe dikwels verweef met water; meer belangrik voel dit vir my of goeie herinneringe soos ’n beeld onder die water is – mens kan iets van die vormgeheel herken, maar die detail is verwronge. Ook is só ’n herinneringsbeeld dikwels mooier as wat die werklikheid was. Ek het toevallig kennis gemaak met Marittie de Villiers, haar indrukwekkende skilderye gesien met water as tema, en haar toe genader om ’n skildery te maak vir die voorblad.

Styl
Die styl het ’n effens ligter inslag; is meer speels as die vorige album, Dit Is Wat Dit Is, s’n. Tog is daar ook heelwat meer nostalgie. Ek het nie bewustelik ’n nuwe rigting prober inslaan met die album nie, maar ek besef dit is tog anders as die vorige albums. Ek skryf maar bloot oor persoonlike goed; ’n mens verander as persoon, en veranderings in musiekskeppingstyl is seker onafwendbaar.
Songs
Ek het, soos voorheen, met meer as twintig komposies begin, maar slegs 12 gekies om op die album te verskyn:
- Lenteliedjie verteenwoordig vir my die Sederberge en verlore liefde te midde van die kras skoonheid van daardie harde wêreld en sy blomme. Dis ’n toonsetting van ’n gedig deur Marelene van Niekerk.
- Onthou is geskryf na aanleiding van ’n vakansie op Oesterbaai, toe ons gesin omtrent die enigste mense op die dorp was. Die wind het verskriklik gewaai die hele tyd, maar een oggend het dit skielik gaan lê en die kinders is met groot fanfare teen die duin af strand toe. Ek het bo-op die duin gesit en die uitbundigheid dopgehou en gedink dis die oomblik wat ek sal wil vasvang.
- Piempiempie is ’n toonsetting van ’n Antjie Krog-gedig. Dis seker die enigste snit op die album wat op die oog af nie by die tema pas nie, maar die gedig het my dadelik laat dink aan my ervaringe in die natuur. Daar is vir my ’n dualiteit in die gedig. Aan die een kant is dit ’n eenvoudige kinderversie, maar tog is daar iets onheilspellends in die gedig, met verwysings soos “handjies wat bloei oor die grond”, en “slaap allenig in die veld … vêr in die veld”. Ek het die dualiteit musikaal probeer simboliseer met die twee ritmiese strukture wat met mekaar verweef is.
- Die ontmoeting is ’n toonsetting van ’n Elisabeth Eybers-vers, wat in een sitting van omtrent 5 minute lank geskep is. Ek het dit getoonset vir ’n vriendin se 40ste verjaardag. Eers het ek nie veel erg gehad aan die lied nie, maar toe ek dit ’n paar dae later weer speel het ek besef daar is betowering in die amper onskuldige eenvoud en eerlike emosie van die musiek. Laat dit ’n les vir my wees: ek dink soms, verkeerdelik, iets is nie waardevol as dit nie ’n lang ruk geneem het om gestalte aan te neem nie.
- Hammerstrasse is geskryf in Basel, Switserland. Dit het uit die aard van die saak ’n sterk mid-Europese gevoel. Dit is ook een van die liedjies wat ek al begin opneem het vir Dit is wat dit is, maar wat nie by die tematiek van daardie album gepas het nie – nou egter sy perfek plek gekry het op Onthou.
- Towerdans is my eie gunsteling-skepping op die oomblik. Ek het dit begin skryf tydens ’n vakansie op Nature’s Valley, baie jare terug, toe daar nie plek was vir ’n groot kitaar nie en ek slegs my klein Papoose (soort minikitaar) kon inpas in die kar. Dit het baie skaaf gekos om die liedjie klaar te kry, maar dit was seker nie toevallig dat als begin inmekaarpas het toe ons verlede jaar weer in Nature’s Valley vakansie gehou het nie. Bernard Odendaal het aangebied om sy hand te waag aan die lirieke. Ons het bymekaargekom en oor die beelde van die bos gesels. Dis vir my asof die bos by Nature’s Valley amper onheilspellend is as mens die eerste keer hom betree – so asof jy nie welkom is nie. Algaande lok hy jou egter al dieper in om jou met sy towerdans van skaduwees te hipnotiseer. Bernard het na my mening uitstekend in sy selfopgelegte taak geslaag.
- Hulle sal jou kom haal is geskryf na aanleiding van ’n operasie wat my dogter, Philippa, gehad het toe sy 3 jaar oud was. Dit was ’n groot operasie om ’n gewas in haar buik uit te sny. Ek het op my verjaardag haar hand moes vashou toe al die toetse en skanderings plaasgevind het en dit het my hart gebreek om die angs in haar oë te sien. Ons het haar probeer voorberei op die hele proses deur rolspel en verduidelikings, maar toe die hele sage agter die rug was, het ek besef dat ek dit op ’n heel ander vlak aan haar moes verduidelik. Om die feite te verduidelik help niks nie – skep liewer ’n verbeeldingswêreld (soos in die film Life is Beautiful). En dit is wat ek met die liedjie gepoog het. Die liedjie word tans ook gebruik vir die Sandra Prinsloo-toneelstuk Oscar, wat handel oor ’n kind wat van kanker sterf.
- Philippa leef dikwles in ’n verbeeldingswêreld waarin haar klere met haar praat en haar byvoorbeeld soggens vra om hulle aan te trek. Haar beertjies het ook name en sterk persoonlikhede gekry, en die tranedal ná ’n beer sneuwel of verloor word, is iets om te beleef! Vandaar Philippa se Vriende.
- Vuurling is ’n toonsetting van ’n Carina Stander-gedig. Carina het my gevra of ek ’n paar van haar gedigte wil toonset vir die vrystelling van ’n digbundel van haar. Vuurling is een van die gedigte wat na my mening baie mooi as liedteks gewerk het. Dis ook vir my spesiaal omdar dit saamgeval het met die geboorte van my jongste dogter, Eugenie.
- Draadlose Wiegeliedjie is ’n Eugene Marais-toonsetting. Dit is ook opgeneem vir Dit Is Wat Dit Is, maar het nie toe die pyp gerook nie. Die gedig is glo deur Marais onder ’n skuilnaam aan ’n tydskrif gestuur, waarin dit geplaas is. Ek het probeer om verwysings na die ou liedjies in die gedig op te vang in die musiek, maar kon nie al die verwysings naspeur nie.
- ’n Ou Bekende Lied is een van my oudste liedjies, en wat ek oorweeg het vir elkeen van my vorige albums. Telkens het dit nie by die albums gepas nie. Johan Smit het vir my destyds ’n paar lirieke aangestuur en hierdie een het iets by my ontlok. Veral die verwysing na Bly By My Heer het my die idee gegee om die temas van die kerklied in die komposisie in te werk (oorspronklik melodie deur J.S. Bach). Jannie Moolman het die liedjie al opgeneem vir een van sy albums, maar ek het gevoel ek wil dit tog self ook vaslê.
- Geskenk se lirieke is deur my vrou Seugnet geskryf na aanleiding van ’n vroeë oggend op die stoep van die ou hartbeeshuisie op die plaas Langakker, waar haar ouers steeds woon. Seugnet se familie word gekenmerk deur geslagte van baie sterk en individualistiese vrouens. Dis ’n tradisie by hulle dat ’n ma die oggendstêr aan een van haar dogters “gee” as ’n geskenk sodra hulle ryp is om dit te “ontvang”, en die betrokke oggend, nog voor die son opkom, het Seugnet se ma die stêr aan haar “oorhandig”.
Medewerkers/Musikante
Wat die skryf van lirieke betref, het ek weer saam met Seugnet en Bernard Odendaal gewerk. Paul Human (Pôlla), Seugnet en Heinrich van den Berg was nog altyd my drie belangrikste hekwagte: die mense wie se opinies ek ongekwalifiseerd vertrou. (Daar is heelwat ander mense ook, maar hierdie drie beweeg tans die naaste aan my.) Aldrie het baie moeite gedoen om na die musiek te luister en baie detail-terugvoer gegee tydens die ontwikkelingsproses. Die album is aan hulle en die musikante opgedra.
Die kern van musikantegroep is dieselfde as op my vorige albums: Matthys Maree op klawers, David Klassen op dromme en perkussie, Denny Lalouette op baskitaar, Werner Bessinger op klassieke kitaar en Sergio Zampolli op akkordeon. Nathan Smith is ’n nuwe toevoeging, op elektriese en solo akoestiese kitaar. Ek het self heelwat van die instrumente wat op die album te hore is, bespeel: akkoestiese kitare, “slide”-kitare, klarinet, klawers, EWI (electric wind instrument), mondfluitjie en ander fluite.
Verder het ek van ’n paar nuwe instrumente gebruik gemaak: Sez Adamson het die “pedal steel” gespeel en Martin Beyers het ’n Alpynse harmonium ingespan op ’n Ou Bekende Lied.
Die strykers was Adri Naudé, Christian Basson en Elmarie van de Vyver. Agtergrondsang is gelewer deur Anél en Werner Bessinger en die trompet is gespeel deur Marcus Wyatt.
Ek het die verwerkings, produksie, opnames en mengwerk self behartig en dit is in my ateljee by die huis opgeneem.
Op ‘n persoonlike vlak moet ek erken dat die maak van hierdie album vir my ‘n moeilike proses was in verskeie opsigte. Die moeilikste vir my was om ‘n balans te vind tussen musiek, familie, vriende en my ingenieurswerk (wat die afgelope jaar baie toegeneem het). ‘n Ander verrassende ervaring wat ek gehad het, is dat dit hierdie keer ‘n eensamer proses was aangesien ek heelwat van die take self verrig het. Ek besef ook ek het dalk meer kieskeurig en puntenerig geraak wat die proses onnodig uitgerek het. Maar, heelaas, die album is klaar en ek kan nou ‘n tiet oor ‘n Champanje bottel trek en in die bed gaan klim!
Brel – ’n Nabetragting
Sedert ek laas geskryf het, het die nuwe Brel-album, Laat my by jou bly, die kerf gehaal as een van die beste 10 albums van 2012 (volgens Mariana Malan van Beeld en Burger) en het dit heelwat wonderlike resensies gekry, veral in Nederland! Hier is ’n paar uittreksels:
“Ze verlenen de liedjes van Brel een droog soort ontroering die maar weinig mensen die hem coveren los maken” – Pieter Wijnstekers.
“Maar zelden klonken ze [die Brel-liedere] zo ontroerend als in het Afrikaans” – Zimbraz.
“Om stil van te worden, zo prachtig” – Fred Hoogendoorn.
Daar is nou ’n spesiale aanbod op my webwerf vir die CD’s van my Brel vertolkings:
http://www.hermanvdb.co.za/musiek/
Konserte
Wanneer: 17 Maart (15:00 vertoning)
Venue: Pierneefteater, Pretoria
Besprekings: Jopie Koen, (012) 329 0709
Wanneer: 4 Mei
Venue: Greykollege, Bloemfontein
Besprekings: Bernard Odendaal, (079) 663 1745
Wanneer: 18 Mei
Venue: Sanlam-ouditorium, NWU-Pukkampus, Potchefstroom
Besprekings: Moet nog bevestig, maar waarskynlik deur Computicket
Tot ’n volgende keer dan – en onthou om die nuusbrief aan te stuur aan enigeen wat sal belangstel om dit te ontvang.
Herman |