Wat sê die Media van Herman van den Berg? | |
Herman van den Berg - van melkbottels tot melodieë deur Martjie Roos (Beeld Plus), 14 Desember 1999 |
|
|
Herman van den Berg, finalis in die Vuurdoop-liedjiewedstryd se kontemporêre afdeling, leef in twee wêrelde. Bedags werk hy as meganiese ingenieur in 'n maatskappy waar hy masjiene bou wat melkbottels vervaardig, en saans skryf hy liedjies of sing. "Ek het voorheen ook as vryskutfotograaf gewerk, maar my lewe was toe baie frustrerend omdat ek nie by alles kon uitkom nie. Ek het besluit om die fotografie te laat staan." Van den Berg, wat onlangs sy debuutalbum, Herman van den Berg, met twaalf splinternuwe liedjies by JNS Musiek uitgereik het, sê hy het op hoër skool sy eie musiek begin maak. "Ek het verskillende klanke op twee bandopnemers opgeneem. Op die een het ek byvoorbeeld met lepels op 'n deur geslaan en op die ander verskeie ander klanke opgeneem. Maar dit was nie juis musiek waarop ek trots was nie,'' lag hy. Hy het op skool klarinet gespeel, maar eers op universiteit begin om sy liefde vir musiek uit te leef. Op Tukkies het hy in die Tukkie-koor gesing, was lid van die groep Fortukssimo en het ook in die kabaret Simpel en pers gespeel. "Hoewel ek op skool meestal na klassieke musiek geluister het, het ek met Fortukssimo meer in die rigting van ligte musiek beweeg en kitaar begin speel.'' Met die kabaret Simpel en pers het hy en die liedjieskrywer Emma Bekker vir die eerste keer talente saamgesnoer. Simpel en pers is 'n satire waarin die media onder skoot kom. Verlede jaar het hy en Bekker die kabaret X-lêers op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn aangebied. "Die kabaret is gegrond op die bekende TV-program The X Files en handel oor twee agente, Jakkals en Sallie, wat vreemde liefdesverskynsels ondersoek.'' Hy het verlede jaar ook sy eerste eenmanproduksie, Kaal, op die Aardklop-kunstefees in Potchefstroom aangedurf. "Kaal is 'n musiekvertoning waarin ek liedjies sing wat meer gestroop is vandaar die titel. Dit beteken ook dat ek die eerste keer my musiek ontbloot. Ek hoop om dié vertoning aanstaande jaar in Oudtshoorn aan te bied.'' Van den Berg sê hy beskou homself glad nie as 'n sanger nie. "My groot passie is om liedjies te skryf en ek loop met baie in my kop rond. Soms droom ek 'n liedjie dit het byvoorbeeld met Kraaitjie Melaaitjie gebeur. Ek het een nag wakker geword en toe die melodie op die kitaar gespeel. Ek het later 'n gedig van Piet van Rooyen ontdek wat toe soos 'n handskoen by die wysie pas.'' Ander kere tokkel hy op die kitaar en dan kry hy " 'n paar mooi akkoorde'' wat tot 'n nuwe liedjie lei, en ander kere kry hy eers die lirieke voordat hy dit toonset soos die geval was met Ingrid Jonker se Windliedjie. Van den Berg, wat ook onlangs twee liedjies vir Mathys Roets se jongste album, Brug na êrens, geskryf het, sê hy het aanvanklik net Engelse nommertjies geskryf . "Maar eendag het ek besluit ek is Afrikaans en dat 'n mens musiek wat jy in Engels maak ook in Afrikaans kan maak. Daar is die Nederlanders vir ons 'n goeie voorbeeld drie of vier liedjies wat op hul Top20 pryk, is gewoonlik in Nederlands.'' En gepraat van die Nederlanders: Dié sanger met die rustige geaardheid sê hy het baie respek vir Nederlandse kunstenaars soos Stef Bos en Herman van Veen. Maar dan is daar ook Sting, Mark Knopfler, Janis Ian, Crowded House en Eric Clapton wat hom inspireer. Van den Berg sê Beeld, Geraas en JNS Musiek se Vuurdoop-liedjiewedstryd het reeds vir hom vele deure oopgemaak. "Ek het baie drome vir die volgende jaar. Ek kan nie wag om my volgende CD op te neem nie maar nou moet my debuut-CD eers vir homself betaal. En dan sal ek ook graag in die toekoms 'n musiekspel wil skryf." |
Kopiereg ©
2000 - 2017 Herman van den Berg. Alle regte voorbehou. |