Wat sê die Media van Herman van den Berg?
   
Ingenieur meen die musieknote wink nou
Beeld, 18 November 1998


Meganiese ingenieurswese en die musiekwêreld is, wel, wêrelde uit mekaar, maar Herman van den Berg het op dertigjarige ouderdom reeds albei betree. Maar as hy nou moet kies, sal hy graag 'n loopbaan van musiek wil maak. Van den Berg, wat tans rolprente redigeer, se liedjie Die Stilte, het van hom 'n finalis in Vuurdoop se kontemporêre kategorie gemaak. Ligte musiek is egter nie sy agtergrond nie. Kleintyd in Pietermaritzburg het hy die klarinet begin speel en tien jaar daarmee volgehou. In sy tweede jaar as ingenieurswese- student by die Universiteit van Pretoria het hy eers kitaar begin speel. Sy invloede strek van Sting tot Counting Crows tot Dire Straits waarvan sy eie stemmingsvolle musiek ook getuig.

Sy musiek is gerig op mense tussen 25 en 45, die sogenaamde volwasse kontemporêre groep. "Ek is bietjie skaam om te sê ek luister nie eintlik plaaslike musiek in Afrikaans of Engels nie,'' erken hy. "Hier is net rêrig nie ouens wat die styl musiek maak waarvan ek hou nie,'' maar hy voeg by dat van die plaaslike jazz en groepe soos Tananas hom beïndruk.

Vuurdoop is egter nie sy eerste blootstelling aan die publiek nie. By vanjaar se Klein Karoo Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn het Van den Berg en 'n vriendin, Emma Bekker, hul eie produksie, Die X-lêers, opgevoer. By die Aardklop-fees in Potchefstroom het hy saam met 'n groep musikante Kaal opgevoer. "Dis so moeilik om 'n indruk op die musiekwêreld te maak. Ons almal sukkel maar. Dit is waarom Vuurdoop so 'n goeie geleentheid vir my was.'' Van den Berg het 'n paar maande gelede 'n demo-CD opgeneem, en gehoop iemand hoor dit. Met die kompetisie het dit hom toe goed te pas gekom.

Hy skryf self sy lirieke en toonset die meeste daarvan. Die Stilte sê hy handel oor wanneer 'n mens alleen is en dit voel asof die stilte jou vashou, en 'n fisieke ding word waardeur 'n mens wil breek. In dié liedjie sing hy: Ek huiwer oor sy grense / ek oortree op sy domein / ek bevind myself op onbekende grond / in sy donker gange skree ek / ek wonder of jy hoor / luister na my woorde / hoor jy herhaal dit oor en oor. Is die musiekwêreld waar sy toekoms lê? "My ma sal nog twee keer dink voor sy my rêrig sal aanmoedig om so iets te doen. Maar dis nou nie of ek stabiel gelewe het voor ek begin sing het nie,'' voeg hy skertsend by.

   
sel: 083 232 1377
epos: info@hermanvdb.co.za
hermanvandenberg.eu brelinafrikaans.eu
 
Kopiereg © 2000 - 2017 Herman van den Berg.
Alle regte voorbehou.
webwerf ontwikkel deur Dumel
grafiese ontwerp - Chenette Swart