Wat sê die Media van Herman van den Berg?
   
Die Singende Ingenieur
deur Schalk Scoombie (Beeld Plus), 27 Februarie 2001


Sy musiek kom direk uit sy drome, sê Herman van den Berg. As kind wou hy klassieke musiek komponeer, want dit was vir hom ‘n enigma: Hoe kry iemand dit reg om sulke hemelse klanke op papier te sit? Hy vat-vat aan die beskaafde bokbaardjie. Ek het as kind glad nie na populêre musiek geluister nie.” Op hoërskool het hy die klarinet bespeel in die Natalse Jeugorkes. Vandag is popmusiek nie meer ‘n vloekwoord nie.

Die meganiese ingenieur, wat sy brood verdien met slikpompe vir myne, wat vir ‘n wyle as videoredigeerder en ook as vryskutfotograaf vir glanstydskrifte soos GQ gewerk het, neem tans op aan sy tweede CD, wat later vanjaar uitgereik word.

Kruispad, sy eerste CD vir JNS Musiek, is ‘n verfrissende debuut en ‘n vertoonstuk van ‘n besondere “populêre“ talent. Hy beskou dit heel beskeie as “ ‘n Snapshot” van sy musiek, maar dis meer as ‘n onbenullige poskaart. Luisterliedjies, frons hy, is dit beslis nie.

In ‘n verskeidenheid van eie liedjies en toonsetting onthul hy ‘n aanvoeling vir gestroopte, evokatiewe lirieke en ‘n plooibare emosionele register. Sy ferweelstem is strelend met onderliggende krag; dit troetel die lirieke en speel vryelik in style soos ligte rock, humoristiese volksliedjie, bytende kabaret en liefdesballade.

“Ek werk nog aan my rock-inslag. Dit verg guts, en dit is moeilik om al die krane oop te draai, veral op die verhoog…..” Op Tuks was hy lid van Fortukssimo, ‘n vokale groep met agt mans wat Europa besoek het, maar hy meen sy stem het eers begin ontwikkel toe hy koorsang laat staan het. ‘n Koor inhibeer mens. Dit het my hees laat voel.

”Van den Bergh, ‘n Nataller van Pietermaritzburg, is gebore in Klerksdorp, agter die “mieliegordyn” in Noordwes. “Die skuif na Pretoria was vir my ‘n skok. Die Afrikaanssprekendes in Natal is baie meer verlig, seker die sterk Engelse invloed.” Sy styl donker hare en blou oë sein onskuld; die spierwit tande is byna te gelyk. Die bokbaard, beduie hy, is ‘n rebelse gebaar.

“As jy uitstaan wat die ingenierswese betref, waar alles so klinies is, word jy gou uitgeskuif. Maar die bokkie was net genoeg van ‘n stelling, dit laat my darem anders voel. My lang hare is destyds nie goed ontvang nie.”

Hy is drie jaar gelede getroud met Seugnet, ‘n besigheidsanalis, “die een wat die geld maak” en hom voluit steun in sy alternatiewe musiekloopbaan.

Hulle het ‘n motor gehuur om Amerika plat te toer op ‘n skrapse begroting, waar hy ‘n magdom musikale invloede kon indrink. Blues in New Orleans, rokerige jazz in New York.

"Volgens Sting is dit die moeilikste om ‘n eenvoudige liedjie te skryf. Daar is drie vlakke wat ‘n liedjie goed maak. Musiek, woorde en tema. Sting het al drie vlakke bemeester. Al die liedjies wat hy skryf, is redelik intens. As dit ‘n liefdesliedjie is, is dit ‘n intense liefdesliedjie.

“Ek probeer dit skryf waarna ek graag luister. Dikwels wil mens ‘n stelling maak, maar ek dink ek steek dit goed weg.

“Aanvanklik het ek niks Afrikaanse goed geskryf nie, net Engels. Dis moeiliker om Afrikaanse lirieke te skryf. Daar is baie kort, kras klanke en dubbelgrepe met die klem op die voorlaaste grepe, soos drome, terwyl die Engels bloot dreams is.”

Sy pa en broer is fanaties oor opera, ‘n passie wat hy nie deel nie, maar hy sou graag sy hand aan ‘n musiekspel wou waag. Klassieke invloede is Beethoven, Rachmaninof, Samuel Barber, en aan die rockfront Dire Straits, Sheryl Crow, Shawn Colvin, Crowded House en Radiohead.

En, nes Beethoven, sukkel hy met doofheid. “Ek het malaria opgedoen en die medikasie het my ‘n bietjie doof in een oor gemaak. Die pille veroorsaak ‘n suising by sommige mense….”Op universiteit het hy himself leer kitaar speel, en vandag tokkel hy met oorgawe. Die melodie van sy eerste Afrikaanse liedjie, Kraaitjie Melaaitjie, het hy een nag gedroom. “n Gedig van deur Piet van Rooyen het perfek daarby gepas.

“Ek het nooit gedink ek is baie musikaal nie, maar ek is goed om akkoorde te hoor, en dis wat kitaarspel is: akkoorde. Dis waarvan ek hou in musiek, interessante akkoordprogressies. Moderne musiek verloop alles in akkoorde.”

Vanjaar is sy gewilde solovertoning Die Beiteltjie (na NP van Wyk Louw se gedig) op die KKNK te sien. “Ek voel ‘n bietjie feesvoos. Ek was die laaste jare op elke fees.”

Van den Berg was ook naaswenner in Plus, Geraas en Janus Musiek se eerste Vuurdoop-liedjiekompetisie. Geen enkele “kiekie” kan ‘n omvattende blik bied op die komplekse kunstenaar nie. Intussen droom hy sy musiek, waardeur gewis geen slik pomp is nie.

   
sel: 083 232 1377
epos: info@hermanvdb.co.za
hermanvandenberg.eu brelinafrikaans.eu
 
Kopiereg © 2000 - 2017 Herman van den Berg.
Alle regte voorbehou.
webwerf ontwikkel deur Dumel
grafiese ontwerp - Chenette Swart