![]() |
|
![]() |
|
Wat sê die Media van Herman van den Berg? | |
![]() |
Persvrystelling Brel in Afrikaans (Herman van den Berg, 2007) |
![]() |
|
|
Jacques Brel is verlede jaar in ‘n meningsopname deur België se Waalse bevolking aangewys as die grootste Belg van alle tye. Verder meen vele kenners, insluitende Herman van Veen, dat Jacques Brel die grootste liedskrywer van die 20ste eeu is. Maar tog het Suid-Afrikaners tot op hede slegs ‘n beperkte blik gekry op Jacques Brel en sy musiek, en dit meesal deur veramerikaniseerde, Engelse vertalings vir Jacques Brel is alive and well and living in Paris, die treffer “Seasons in the Sun” (waarin die oorspronklike betekenis van die lied totaal verdraaid is). Liesbet Lizt en Herman van Veen se Nederlandstalige opnames van Brel-liedere is ook matig bekend by ons; ook enkele Afrikaanse vertalings ("Moenie weggaan nie", "Liefde van later" en "Vriend sien huil"). Die ware Jacques Brel, in die oorspronklike Franse gewaad van sy chansons, het vir ons egter grootliks verskuild gebly. Dit is egter alles aan die verander. 30 jaar reeds is Naomi Morgan (professor in Frans aan die Vrystaatse Universiteit) gefassineer deur Brel. Sy het saam met Bernard Odendaal (professor in Afrikaans en Nederlands aan dieselfde universiteit) ‘n projek geloods om Brel se chansons in Afrikaans te vertaal. Die projek het, as 'n eerste fase, uitgeloop op ‘n kabaretproduksie met 13 vertaalde chansons, en waarin Herman van den Berg en Matthys Maree die musiek en sang behartig. Die produksie is 'n dosyn kere só suksesvol opgevoer in Suid-Afrika dat 'n uitnodiging ontvang is om dit ook in Gent, België, op die planke te bring. Uiteindelik het dit ook gelei tot die vervaardiging van ‘n CD ("Herman van den Berg sing Brel in Afrikaans"), wat hoë lof ingepalm het, selfs 'n keer "Die Huisgenoot" se luisterkeuse van die week was, en weens die belangstelling in die Beneluxlande eersdaags ook in Nederlandse uitgereik gaan word. Die roerende vertoning het daarna nog etlike opvoerings beleef, onder andere ook tydens die Woordfees in Maart 2006 op Stellenbosch. Einde April 2006 is dit ’n handvol kere op uitnodiging uitgevoer in die Tinnenpot-teater in Gent, België. Die vertoning is intussen weer genooi om in Spetember en November in Gent, Antwerpen en Nederland opgevoer te word. Die kunstenaars Herman het reeds met twee CD’s, Herman van den Berg en Proe die aarde, uitgemunt as oorspronklike komponis en liriekskrywer, asook vertolker en toonsetter van gedigte deur bekendes soos N.P. van Wyk Louw, W.E.G. Louw, Antjie Krog, Ingrid Jonker, I.D. du Plessis en Piet van Rooyen. Sy sensitiewe vertolkingsvermoë word ten beste ten toon gestel in die Brel-liedere wat hier opgeneem is. Beide sy CD’s was finaliste vir South African Music Awards. Ook Mathys, ’n gesogte begeleier by Suid-Afrikaanse sangers, munt uit in die uitdagings wat aan die pianis gestel word deur die Brel-toonsettings. Hy het, naas ’n eie instumentale album, saam met kitaarspeler Mauritz Lotz reeds gesorg vir die CD The M&M project. Jacques Brel (08/04/1929 - 09/10/1978) Soos in talle lande van die wêreld, klink die liedkuns van Jacques Brel weer en weer op in vertonings en opnames in Suid-Afrika. Ook Afrikaanse musiekkunstenaars het hulle daaraan gewaag om sy werk te sing: Laurika Rauch, Jannie du Toit, André Schwartz, Amanda Strydom, Kevin Leo, Karin Hougaard, Coenie de Villiers, ensovoorts. Gewoonlik geskied dit in Engels of Nederlands, maar in enkele gevalle ook in Afrikaanse vertaling. Nie verniet nie dat die befaamde Nederlandse verhoogkunstenaar, Herman van Veen, beweer het dat Brel, naas die operakomponis Giacomo Puccini, waarskynlik die invloedrykste liedskrywer van die twintigste eeu is. Die Amsterdamse digter Ernst van Altena, wat sowat sewentig van Brel se liedere in Nederlands vertaal het, beskryf hom as “de keizer van het chanson”. Die chanson van die Franstalige wêreld word gekenmerk deur die sentrale plek wat die digterlike woord daarin inneem. Van die belangrikste Franse digters se werk is byvoorbeeld op hierdie wyse getoonset en populêr gemaak: Verlaine, Rimbaud, Baudelaire, Hugo, Apollinaire, Ronsard, De Musset, Villon... Die luisterliedjie, soos dit in die negentien-sewentiger- en –tagtigerjare hier by ons op die voorgrond getree het, is die Afrikaanse liedverskynsel wat waarskynlik die naaste aan die aard van die chanson kom. Toe Brel in 1978 op nege-en-veertigjarige ouderdom oorlede is aan longkanker, het dit eintlik die einde van ’n kulturele periode ingelui - so beweer Van Altena in die inleiding tot die boek Jacques Brel. Mijn vlakke land/Le plat pays (2005). Hierna sou die lied nie meer die groot teatrale ekspressiemiddel wees soos by Brel nie; nie meer ’n dramatiese samesmelting van persoonlike poësie en vindingryke musiek waardeur oud én jonk oorrompel kon word nie. Brel se liedere is daarom in verskeie tale vertaal. Van Altena se sowat sewentig Nederlandse omsettings is waarskynlik die beste – só goed dat Brel, wat ’n aantal van dié vertalings opgeneem het, beweer het dat sommige van die Nederlandse weergawes beter is as sy oorspronklik Franse lirieke. Terloops, Brel was geen Fransman nie. Sy voorgeslagte was Vlaminge, of Nederlandssprekende Belge, wat verfrans het waar hulle in Zandvoorde op die Frans-Vlaamse taalgrens gewoon het. Jacques het egter in Brussel grootgeword, waar sy vader ’n kartonfabriek bedryf het. In 1953, op 24-jarige leeftyd, begeef hy hom na Parys, Frankryk, waar hy internasionale roem sou verwerf. Helaas het die meeste ander vertalings, ook die enkele Afrikaanses (soos “Moenie weggaan nie” en “Liefde van later”), ver te kort geskiet by die oorspronklike Brel-tekste. ’n Unieke en sterk persoonlikheid spreek uit sy werk. Sentimentaliteit, wat byvoorbeeld uit sommige van die populêre Engelse vertalings spreek, was vreemd aan veral die meer volwasse Brel. Snydende ironie en sarkasme kenmerk eerder sy werk; maar dan is die spot byna altyd getemper deur ’n milde mededoë. Hy het selde die Franse woord vir liefde, amour, gebruik, en eerder gekies vir tendresse (teerheid) – hoewel hy, buite sy huwelik met sy Brusselse jeugliefde om, verhoudings met ’n menigte vroue aangeknoop het! ’n Spesiale waardering het hy gehad vir die kameraderie tussen mans. Die belangrikste tema in sy liedere is egter waarskynlik die dood en, daarby aansluitend, die ouderdom. Brel het oor ’n merkwaardige beeldende vermoë beskik. Hy kon dramatiese toneeltjies meesterlik voorstel en treffende karaktersketse maak in sy chansons –“gesonge eenakters”, soos ’n kritikus hulle beskryf het.
|
![]() |
|
![]() |
![]() |
Kopiereg ©
2000 - 2017 Herman van den Berg. Alle regte voorbehou. |