![]() |
|
![]() |
|
Wat sê die Media van Herman van den Berg? | |
![]() |
Persvrystelling Dit is wat dit is (Herman van den Berg, 2008) |
![]() |
|
|
Sowat ses jaar na Proe die aarde, Herman van den Berg se skitterende tweede album, is Dit is wat dit is uiteindelik hier, sy langverwagte vierde CD! (Tussenin het hy wel ‘n CD aan een van sy ikone, Jacques Brel, gewy, naamlik Brel in Klinkende Afrikaans.) Aanhangers van dié veelsydige komponis, liedjieskrywer en musikant kan hieroor verheug wees, want "Afrikaans se eie Sting" was nog nooit ‘n kunstenaar wat holderstebolder CD’s voortbring bloot om kommersiële redes nie. Gehalte en afronding is vir hom van opperbelang, en elke liedjie wat ingesluit word op sy albums word versigtig oorweeg. Daarom is hierdie bekendstelling van ‘n nuwe CD deur Herman van den Berg waarlik iets om oor huistoe te skryf en al jou vriende te vertel. Dit is wat dit is getuig van beleënheid, rypheid en wasdom. Nie net is dit sy mees veelvlakkige werk nie, dis ook sy rykste komposisies wat getuig van internasionale invloede en kundigheid as vervaardiger. Hoewel die tien liedjies uiteenlopend in stemming en onderwerp is, word dit soomloos saamgesnoer onder die tema van nietigheid: "Uiteindelik het ek besluit om terug te keer na die ervaringe en gewaarwordinge wat ek die afgelope paar jaar deurgemaak het. Die sterkste van hierdie gewaarwordinge is die gevoel van nietigheid. Ek ervaar nietigheid op verskillende maniere: Van die weerloosheid van mens se eie kinders, die oomblik van broosheid in jou vriend se oë tot die onbeperkte gulsigheid waarmee ons mekaar en ons omgewing verslind." Vir die nuwe album het Herman begin met 24 liedjies, waarvan hy 13 opgeneem het. Uiteindelik het net 10 aan al sy streng kriteria voldoen. Die digter en akademikus prof. Bernard Odendaal van die Universiteit van die Vrystaat was ‘n noue medewerker wat lirieke vir twee liedjies geskryf en waardevolle insette op die ander lirieke gelewer het. Soos voorheen het Seugnet, Herman se eggenote en ‘n bedryfsielkundige, weer eens ‘n sleutelbydrae met lirieke gelewer. "Op hierdie manier gee haar lirieke en ons samewerking uiting aan ons gedeelde ervarings en sienings," sê Herman. Hierdie keer wou hy sy manier van opneem verfyn: "Ek was nog altyd ‘n groot voorstaander van die organiese proses van musiek saam deur te voel met ander musikante voordat mens by ‘n ateljee instap. In my agterkop het ek dus al lankal die plan om almal in my huis bymekaar te bring; ‘n omgewing waar daar ‘n gemaklike atmosfeer en goeie kos is en waar kreatiwiteit hoogty vier. Die tegnologiese vooruitgang wat musiekopnames betref, het die sessies laat ontwikkel in ‘n werkswinkel tesame met ‘n opname. Ons het toerusting gehuur, matte teen die mure gehang, die huis op sy kop gekeer, die kok ingevoer en toe vir ‘n paar dae verdwyn in ‘n warboel van drade en musiek. Dit is wat dit is is gebore uit die chaos." Herman is die vokalis, en as ware multi-instrumentalis het hy kitare, klarinet, saxofoon, kwela-fluit (of penniefluit) en mondfluitjie gespeel. Hy word ondersteun deur ‘n gesoute span top-musikante, onder andere Johan Rautenbach (kitare, banjo en papous), Matthys Maree (klawers), Denny Lalouette (baskitare) en David Klassen (tromme). Verder het hy gebruik gemaak van trompet, tromboon, viole en fiedel om ‘n kleurryke tapyt van musiek te skep. Herman se voorliefde vir poësie blyk weer eens in die stormsterk openingsnit, ‘n toonsetting van N.P. van Wyk Louw se Rondloper. (Sy tweede album Proe die aarde het ook afgeskop met ‘n toonsetting van dié gevierde digter, Die beiteltjie.) ‘n Jazzerige ode aan die Vrystaat se onbesonge hoofstad, My oom wat jare woon in Bloemfontein, kan klassieke status verwerf met lirieke soos: My oom wat jare woon in Bloemfontein/sê sy stad is maar ’n oornagplek:/daar’s die wat mos net sy liggies ken,/wat donker aankom en weer vroeg vertrek./Of onderweg na een of ander oord/verbyjaag in hul dolle vaart!/My oom wat jare woon in Bloemfontein/sê dis presies ook van die lewe waar... Die roerende titellied vir kitaar, klavier, fluit en viole is ‘n vertaling van Erich Fried se vers oor die versoenende aard van die liefde: Dis belaglik/Sê die trots/Dit is ligsinnig/Sê die voorsorg/Dit is onmoontlik/Sê die ervaring/Dit is wat dit is/Sê die liefde ... In teenstelling is daar die satiriese Kaalkoppe, wat voortborduur op idees uit Jan Rabie se gedig Drie kaalkoppe eet tesame, ‘n aanklag teen die VSA se hebsug en materialisme: Om die tafel sit die kaalkoppe/Hulle bekers met olie gevul/Om die tafel sit die kaalkoppe/ Wat aan als wat geld kan koop, wil smul. Rock-kitare gee die pas aan met opwindende, James Bond-agtige snare. Verganklikheid en die broosheid van die lewe sweef soos ‘n goue draad deur Polla, Die tyd, die wiegelied Vreemde Wese en Hier sit ek nou, ‘n luilekker kroegliedjie waar ‘n alkoholis sy enigste minnares vertroetel, ‘n glasie muskadel: Hier sit ek nou met my hande rondom jou/dis net jy wat met my praat/Jy bied jou troos wat dit beter maak... Die musikale inkleding is deurgaans delikaat en ryklik geskakeerd, op ‘n skaal wat Herman nog nie voorheen aangepak het nie en nog bitter selde in Afrikaanse musiek te hore was. Maar dis veral sy vurige en soms troebel aanslag as sanger wat die fyner nuanses van elke liedjie tuisbring waar dit lank resoneer – in die hart. Die verrassende omslag-ontwerp gee die eerste leidraad dat die luisteraar ‘n beleë, anderssoortige album kan verwag. "Die konsep is om dit soos ‘n ou ensiklopedie met ‘n versierde leeromslag te laat lyk, wat dan inpas by die tema van dinge wat verbygaan," sê Herman. Dit lyk gewis soos geen ander plaaslike CD-omslag of verpakking nie op die mark nie. Herman maak al van jongs af musiek en kon musiek lees voor hy kon skrif lees. Hoewel hy sy tande gesny het op die klarinet, het hy op universiteit ‘n liefdesverhouding met die kitaar aangeknoop wat met die tyd net sterker geword het. As ‘n Tukkie ingenieursstudent was hy lid van die universiteitskoor, die groep Fortukssimo en die kabaretgroep Tuksedo. Hy was ook algehele wenner van die universiteit se Ligteliedjiefees. Na voltooiing van sy universiteitsopleiding raak hy betrokke by verskeie musiekproduksies as kitaarspeler en musiekskrywer. Hy eindig vir twee agtereenvolgende jare as ‘n Crescendo-finalis en neem sy solo-vertoning Kaal na Aardklop 1998. In 1998 laat hy ook die Afrikaanse musiekgemeenskap regop sit met sy bydrae tot Geraas se Vuurdoop-kompetisie. Hoewel hy uiteindelik tweede eindig, kry hy wel die geleentheid om sy debuut-CD te maak. Die CD Herman van den Berg word op die koop toe genomineer vir ‘n SAMA-toekenning in die kategorie Beste Afrikaanse Kontemporêre CD. In 2000 tref hy, Anna Davel en Joe Niemand KKNK met ‘n kabaret genaamd Pers. Herman het die afgelope vier jaar nuwe horisonne verken. Hy het meer tyd aan sy "musikale stokperdjie" begin afstaan. Blootlê, die musical saam met Schalk Schoombie (teks), ‘n opdragstuk vir Aardklop in 2003, het sy aanvoeling vir musiekteater bevestig. Vir die M-Net dramareeks Binnelanders het hy agtergrondmusiek gekomponeer. In 2005 het hy sy passie vir Brel tot die droesem verken met die produksie van sy CD, Jacques Brel in Klinkende Afrikaans, wat by verskeie feeste in die land aangebied is. Die daaropvolgende jaar is hy genooi om die produksie in Gent, België op te voer. Die CD is ook in die Benelux-lande uitgegee. In 2007 gaan toer hy weer in die lae lande met ‘n tweede Brel-konsert, Die tere oorlog van die liefde. Dit is wat dit is bou met selfvertroue voort op die aansienlike prestasies van dié toonaangewende kunstenaar. Liefhebbers op soek na meesleurende melodieë, kragtige kitaarballades en intelligente lirieke wat diep tref, sal iets van blywende waarde vind, ‘n versamelstuk, en ‘n briljante album wat "is wat dit is". Mylpale van ‘n blink loopbaan: Dubbelle finalis vir South African Music Award Finalis van Crescendo in beide 1997 en 1998 "Beste nuwe manlike kunstenaar" – Beeld "Een van die beste, indien nie die heel beste nie, nuweling op ons musiektoneel" – Theunis Engelbrecht Algehele wenner van Ligteliedjiefees aangebied deur die Universiteit van Pretoria Naaswenner in Vuurdoop kompetisie, aangebied deur Beeld, Geraas en Janus musiek "Die konnosieur van Afrikaanse musiek" – Steve Hoffmeyr "Die ‘Sting’ van Afrikaans" – Geraas Debuut CD ‘n finalis vir ENB South African Music Award. Proe die aarde (Tweede CD) weer eens ‘n finalis vir ENB South African Music Award. "Hier is ‘n CD wat nuwe weë vir Afrikaanse musiek baan." – Keur "Dis Afrikaans op sy mooiste" – Rooi Rose "Herman van den Berg is een van die beste liedjieskrywers waaroor die land beskik. En let op, ons praat nie hier van net in Afrikaans nie." – Dirk Jordaan, Beeld |
![]() |
|
![]() |
![]() |
Kopiereg ©
2000 - 2017 Herman van den Berg. Alle regte voorbehou. |